Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se skatting van wanneer die skole gereed sal wees om oop te maak, is dalk nie vir alle provinsies haalbaar nie.
Dis tans slegs die Wes-Kaap en Gautengse skole wat gereed is om te open. Die res van die provinsies se skole is steeds besig om al die nodige veiligheidsmaatreëls in plek te stel.
Die minister sê die veiligheid van onderwysers en werknemers is net so belangrik as die leerlinge se veiligheid. Die nodige veiligheidsmaatreëls moet dus in alle skole geïmplementeer word as hulle heropen.
Die departement van basiese onderwys het in ‘n verklaring aangekondig minister Motshekga sal na verwagting die amptelike datum vir die heropening van skole Donderdag aan Suid-Afrika bekendmaak.



