Vrou (41) wat glo “winkel” toe draf, gearresteer

KAAPSTAD – ’n Vrou, wat glo volgens ’n ooggetuie met ’n rugsak winkel toe gestap het, is op video vasgevang waar sy deur die polisie in Kaapstad in ’n vangwa gegooi word.

[archiveorg polisie-arresteer-vrou-in-bloubergstrand width=640 height=480 frameborder=0 webkitallowfullscreen=true mozallowfullscreen=true]

’n Video van die voorval wat glo gister in Otto du Plessisrylaan in Tafelsig plaasgevind het, is wyd op Twitter gedeel. Nog ’n video, wat ’n motoris van nader geneem het, is ook op die plasing gedeel.

In die video skreeu die vrou dat die polisiebeamptes nie aan haar mag raak nie. Sy pleit by die beamptes om ten minste ’n meter weg te bly, terwyl hulle haar agter in die vangwa probeer kry.

Novela Potelwa, die provinsiale hoof van kommunikasie vir die Wes-Kaapse polisie, sê egter volgens beamptes het hulle die vrou gesien draf toe hulle haar nader en in kennis gestel het dat oefening onder vlak 4 van inperking slegs tussen 06:00 en 09:00 toegelaat word.

Hy sê sy het geweier om saam met die polisie te werk en het ondervraging ontwyk. Beamptes het daarop reageer en het haar vir die oortreding van die wet op rampbestuur in hegtenis geneem.

Potelwa sê klagtes van crimen injuria en verset teen arrestasie is teen haar gebring en sy moet op 2 September in die hof verskyn. 

Hy sê vanweë die aard van die voorval en die moeilikheid wat dit vir beamptes inhou, het die polisie ook ’n selfoonvideo van die arrestasie geneem. Daar sal op ’n geleë tydstip daarvan gebruik gemaak word, sê hy.

Die polisie doen steeds ’n beroep op lede van die gemeenskap om die oppergesag van die reg te respekteer, sluit Potelwa af.

Leave a Reply

Your email address will not be published.