Slaggat vreet bande, kla motoriste

KIMBERLEY – Motoriste is ontstoke nadat ’n aantal voertuie en bande glo weens ’n slaggat in Quinnstraat beskadig is.

’n Inwoner wat die probleem onder FiND iT se aandag gebring het, sê daardie gat is ongeveer die grootte van ’n visdam.

“Ek het vandag padwerke by die Sol Plaatje-munisipaliteit probeer bel, maar hulle antwoord nie. Daai gat is so groot soos ’n visdam,” sê sy.

Sy sê ’n motor waarin sy was en nog ’n ander het ’n band as gevolg van die slaggat verloor. Meer as drie voertuie waarvan sy weet het na bewering skade gely.

’n Volvo se stuurrak is glo ook daar beskadig. Diegene wat skade gely het, vra wat moet motoriste nou in so ’n geval doen?

Volgens ’n berig deur Business Insider het ’n motoris R1 600 se skade suksesvol van sy plaaslike munisipaliteit geëis nadat hy ’n slaggat getref het. Volgens Jean le Roux, ’n voormalige advokaat en News24-joernalis, is munisipaliteite verplig om die koste van herstelwerk aan voertuie vir skade wat deur slaggate veroorsaak is, te betaal indien die ongeluk op munisipale paaie plaasgevind het.

Volgens prosedures in ander munisipaliteite soos Ekhuruleni moet ’n aansoekvorm vir enige eise volledig ingevul word.

Die volgende inligting word versoek:

  • Besonderhede van die eienaar van die voertuig
  • Besonderhede van die bestuurder van die voertuig as dit van die eienaar s’n verskil
  • Voertuigbesonderhede
  • SAPD-inligting (slegs indien dit aan die polisie gerapporteer word)
  • Versekeringsbesonderhede (as voertuig verseker is)
  • Besonderhede van die voorval
  • Uitgebreide beskrywing van die voorval
  • Foto’s, video’s van skade, asook kwotasie vir herstel ens.

FiND iT het navraag by die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.