Leandrè (30) en haar man Adrian Crous (49), sou Engeland toe Emigreer. Hy het reeds op 17 Maart gevlieg en sy sou binne ’n week volg, maar toe sak die nasionale inperking op Suid-Afrika en amper die hele wêreld toe. Leandrè en haar kinders is tans sonder enige besittings of selfs speelgoed vir die kinders in Suid-Afrika gestrand.
Die paartjie het besluit om Engeland toe te trek om ’n beter lewe vir hulle as gesin te maak en het hulle eie besigheid daardie kant begin.
“Ons het 1 Maart 2020 by my skoonma ingetrek vir die tydperk wat ons vir my man se visum gewag het. Hy het die 17de Maart 2020 England toe gevlieg. Ons het ons eie besigheid begin en hy het bemarking van die huis af gedoen tot hy vergaderings met die spoorweë kon bywoon. Ons doen die skoonmaak van graffiti op treine en ek sou die admin daarvan doen.”
Visum daag nie op nie
Nadat Adrian oorsee is, sou Leandrè binne ’n week gevolg het maar haar visum het nooit opgedaag nie. “My visum is op prioriteit gesit en sou na vyf werksdae hier gewees het, betyds vir my om ook oorsee te kon gaan, maar dit het nooit na die vyf werksdae hier aangekom nie. Na agt werksdae en baie navrae, was dit nog steeds nie hier nie en dit is toe wat die nasionale inperking aangekondig is.”
Sonder enige besittings
Leandrè vertel hulle het reeds hulle huis, karre en besittings verkoop. Hulle het ook reeds hulle klere en speelgoed vir minderbevoorregtes geskenk. “Ons is huisloos en ons kar is verkoop. Ons geld is by ’n bank vasbelê vir England. Die kinders se speelgoed en klere is vir die minderbevoorregtes gegee.”
Bly tans by familie
Leandrè en seuns, Noah (3) en Abraham (5), bly tans by haar skoonma in Bloubergstrand. “Ons het met net vier tasse by my man se ma se ingetrek omdat dit net twee of drie weke sou neem. Dit is nou al 50 dae. Ons het geen idee wanneer ons my man weer gaan sien nie en of en wanneer ons sal kan oorgaan nie.”
Kinders is gebreek
“My kinders is gebreek. My kinders wil huis toe gaan, al weet hulle ons trek. Hulle soek hulle speelgoed, ons sou nuwes daar gekoop het en kan op die oomblik niks hier koop nie. Hulle soek hulle pa en hulle kan nie verstaan hoekom is hulle huis, hulle goed, en hulle pa weg nie. Die oudste een is kwaad en dink ons is nie meer ’n familie nie.”
Leandrè is in hierdie stadium onseker wanneer sy haar visum sal kan kry en by haar man sal kan aansluit.




