Betaaldatum vir SASSA-toelae bekendgemaak

Deel hierdie storie / Share this story

Bejaardes en persone met gebreke wat maandelikse toelae ontvang, sal vanaf Mei hierdie toelae op die vierde dag van die maand ontvang. Alle ander toelae sal volgens die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) op die sesde dag van die maand uitbetaal word.

Begunstigdes word aangeraai om nié op die eerste dag van die maand die balans in hul rekeninge aan te vra nie. Die geld sal op die bogenoemde dae betaal word en meer as die een gratis balansnavraag wat per maand toegelaat word, sal net onnodige bankkostes aftrek.

Ivumile Nongogo, waarnemende en uitvoerende hoof van SAPO, sê die verandering van die betaaldatums sal voorkom dat groot groepe begunstigdes saamdrom. Die besluit ondersteun dus die regering se streng maatreëls oor sosiale distansiëring om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Die opsie van betaling by kontantpunte sal vir alle begunstigdes, insluitend bejaardes en persone met gebreke, eers vanaf 7 Mei beskikbaar wees.

SAPO-takke sal op 2 Mei oopmaak vir die vervanging van SASSA-kaarte en die instel van PIN-kodes.

Die poskantoor waarsku begunstigdes om nie paniekerig te raak as hulle nie dadelik geld kan trek op die dag wat die toelae beskikbaar gemaak word nie. Die begunstigdes sal hul volle toelae ontvang.