Regulasies nodig vir kragonderbrekings tydens pandemie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die DA in die Noord-Kaap dring op regulasies aan om kragonderbrekings tydens die Covid-19-pandemie te reguleer.

Harold McGluwa, DA Noord-Kaapse provinsiale voorsitter en hoofsweep van die provinsiale koukus, sê die DA doen ’n beroep op die LUR van COGHSTA, Bentley Vass, om dringend te verseker dat munisipaliteite wat krag wil afsny en blok, regverdige en genadige regulasies sal volg ten einde verdere skade aan individuele huishoudings en plaaslike ondernemings te voorkom.

Hy sê by die Dawid Kruiper-munisipaliteit op Upington word ’n sambreelbenadering gebruik om die elektrisiteit van alle agterstallige rekeninghouers te sny. “Dit is ongeag die individuele meriete van elke saak. Dit is ook ten spyte van die feit dat ’n aantal mense in die afgelope maand weens die inperkingsregulasies geen inkomste ontvang het nie,” sê McGluwa.

Sommige van die nuwe wanbetalers het skoon rekords gehad en het voor die verwoesting deur die verspreiding van die koronavirus nooit tevore versuim om hul munisipale rekeninge te betaal nie, sê hy. “’n Plaaslike gastehuis-eienaar wat ’n rekening van R9 000 ontvang het, kan nie nou die munisipaliteit betaal nie, omdat die gastehuis gesluit is. Behalwe vir die flikkering van sy alarmstelsel, is daar geen teken van lewe op die geslote perseel nie. Daar is en was die afgelope 35 dae geen gaste nie en hy het weens die regulasies geen inkomste ontvang nie. Soos soveel ander besighede kan die gastehuiseienaar niks daaraan doen nie. Vir al hoe meer mense, soos dié eienaar van die gastehuis, word die situasie al hoe erger,” verduidelik McGluwa.

Hy sê: “In Dakotaweg, ’n baie armer gebied, het meer en meer inwoners nie geld vir kos nie, maar tog moet die munisipaliteit vooraf betaal word, anders sal hul krag gesny word. Met die koue en nat winter wat aanbreek, is dit ’n groter bedreiging vir die welstand van inwoners wat reeds die dubbele verwoestende uitwerking van die koronavirus se gesondheids- en ekonomiese krisisse beveg.”

McGluwa sê dit is genadeloos vir die Dawid Kruiper-munisipaliteit om krag te sny sonder om selfs in hierdie moeilike tye met inwoners gesprekke te voer of sonder om buigsaam te wees.

Hy sê: “Terwyl die DA aanvaar dat rekenings betaal moet word vir munisipaliteite om as lopende besighede voort te gaan, vra die huidige buitengewone omstandighede vir buitengewone maatreëls, nie net van nasionale en provinsiale regerings nie, maar ook van plaaslike regerings.”

“In die Wes-Kaap het ons gesien dat DA-munisipaliteite wat omgee, koersverlagings en kortings bied op grond van inkomsteverliese en ook betalingsooreenkomste aangaan, gebaseer op die unieke omstandighede van elke individu,” sê McGluwa. 

Henk Opperman, leier van die DA-koukus van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, het ’n brief aan die raad voorgelê om die proses van kragonderbrekings te hersien. “Ek sal ook aan Bentley Vass, LUR van Coghsta, versoek om dringend ’n opdrag aan alle instellings vir plaaslike regerings uit te reik om ’n sorgsame en regverdige benadering in die toekoms te volg. Dit is nie tyd vir besigheid soos gewoonlik nie,” sê McGluwa.

Hy sê: “Munisipaliteite in die Noord-Kaap moet aanpas en binne duidelike riglyne menslikheid toon. Ons was nog nooit tevore in so ’n situasie nie. As individue en as regering moet ons almal help om verligting in sy verskillende vorme, aan soveel mense moontlik uit te brei.”