Suid-Afrika sal op 1 Mei die inperkingsmaatreëls begin verslap, het president Cyril Ramaphosa gisteraand aangekondig. Die inperking sal egter nie té vinnig heeltemal tot ‘n einde kom nie. Die moontlikheid dat die virus terugkeer sodra die streng maatreëls verslap word, bestaan steeds.
Soos president Ramaphosa verduidelik het, is daar vyf fases van inperking. In die proses om die Covid-19-virus onder beheer te kry en te hou, sal die land deur die verskillende fases beweeg en stadig maar seker die streng reëls verslap.
Vlak vyf
Die vyfde vlak is die hoogste vlak en behels, soos vir die afgelope vyf weke, totale inperking. Steeds net essensiële dienste sal vir die res van hierdie tydperk in die land soos normaal funksioneer.
Vlak vier
Die landbou-, voedsel-, myn-, uitvoer-, pos- en tegniese en finansiële dienste asook herwinnigsektore word toegelaat om te funksioneer. Openbare vervoerdienste soos taxi’s en busse word toegelaat om onbeperk te funksioneer.
Vlak drie
Kitskosrestaurante en aanlyn afleweringsdienste word op dié vlak toegelaat om dienste te lewer. Meeste handelaars word die verkope van goed soos klere, alkohol, kantoortoerustig, chemikalieë, sement en staal toegelaat. Nasionale vlugte word toegelaat, met beperkings op die hoeveelheid passasiers per vlug.
Vlak twee
Konstruksie- en regeringsdienste, alle ander handelsektore en internasionale reis sal toegelaat word.
Vlak een
Alle sektore en maniere van reis word in hierdie stadium toegelaat.



