Inperking gaan in vyf fases opgehef word – alles wat jy moet weet

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Wanneer die landwye inperking opgehef word, sal Suid-Afrika na ’n stelsel met vyf waarskuwingsvlakke oorgaan om dit so veilig moontlik te doen. 

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. sê die waarskuwingstatus sal gereeld op grond van die huidige tempo van infeksie regoor die land hersien word.

Hy sê: “Die inperking gaan stelselmatig in fases verlig word om te verseker dat Suid-Afrika die verspreiding van die virus so veel as moontlik kan beperk.”

“Die waarskuwingstelsel is ontwerp om die regering vinnig te laat reageer en die beperkingsvlak te verander op grond van die tempo van koronavirusinfeksies in ons land,” sê Mkhize.

“Alhoewel die inperking begin verlig word, is dit steeds van uiterste belang dat alle Suid-Afrikaners sosiale distansiëring en higiënepraktyke moet toepas om die verspreiding van die koronavirus te beperk.”

Omdat die bevestigde getalle en infeksiesyfers vir Covid-19 oor die hele land verskil, sal die waarskuwingsvlakke op provinsiale vlak bepaal, en in sommige gevalle volgens distrik bepaal word.

“Alhoewel sommige van die inperkingmaatreëls verlig word, sal beperkings op byeenkomste voortduur om te verseker dat die tempo van koronavirusinfeksies nie te vinnig toeneem nie,” sluit Mkhize af.