FiND iT kuier tydens #lockdown in Harpenden, ‘n prentjiemooi dorpie 30 myl noord van Londen, waar Yolande Fourie woon en werk.
FiND iT het by haar verneem oor hoe sy die wêreldwye #lockdown ervaar.
Sy wys ook vir ons hoe dit buite haar blyplek in die straat lyk.
Op 23 Maart ingeperk
“Menseregte speel ‘n baie groot rol in Engeland en die lockdown is nie onmiddellik in werking gestel nie. Voor die 23ste Maart was die reël dat ons nog mag vry rondbeweeg, maar sosiale distansiëring handhaaf. In daardie stadium was dit die begin van ons lente, warmer dae en die son wat eers nege-uur in die aande sak. So dit was ‘n stryd om daardie afstand te handhaaf. Ons winkels, restaurante en pubs was nog almal oop.
Ons eerste besef van die werklikheid van lockdown was toe ons skole, kolleges en universiteite gesluit het en dit aangekondig is dat geen A-levels (gelykstaande aan matriek) of GCSE-eksamens geskryf sal word nie en dat skole eers weer in September sal heropen. (Engeland se nuwe skooljaar begin in September tot Junie die volgende jaar met ‘n lang somervakansie vanaf Julie tot September).
Op 22 Maart, tydens die daaglikse Covid-19-update, het Boris Johnson egter aangekondig dat alle pubs, restaurante en nie-essensiële winkels daardie aand om tienuur sou sluit en dat ons almal in ons huise moes bly. Dit was die begin van ons amptelike lockdown.
Dit was die eerste keer wat Covid 19 regtig ‘n direkte effek op ons lewenstyl gehad het in die sin dat beide Kobus, my man en Christiaan, my seun, in die gasvryheidsbedryf en beide se plekke is onmiddellik gesluit. Jy besef dan almal is geraak. Ons bly in ‘n woonstel in Harpenden en komende van Suid Afrika, is dit ‘n aanpassing om nie onbepaald buite te wees nie. Dit het ‘n groot effek op ons gehad – daardie besef van die inperking van jou vryheid.”
Regering hanteer die krisis effektief
“Van die begin af het ons regering die Covid 19-uitbraak baie ernstig hanteer en onmiddellik strukture in plek gesit. Vanaf die 23ste Maart het ons ‘n daaglikse update van ons regering om 5 nm. op die nuuskanale. Aan die begin is dit hanteer deur ons Eerste Minister, Boris Johnson en gewoonlik twee mediese raadgewers, waar ons ‘n daaglikse syfer van kwantitatiewe data ontvang oor die getal sterftes en statistieke en dan kommunikeer hulle enige nuwe wetgewing met die publiek. Ons nuuskanale is 24/7 op Covid 19. Boris Johnson het ongelukkig ook ernstig siek geraak met Covid 19 en sy take word nou oorgeneem deur die Minister van Buitelandse Sake, Dominic Raab.”
Nie alles is sleg nie
“Ons mag elke dag vir een uur buite draf of stap – ons moet aanhou beweeg en moet sosiale distansiëring handhaaf. Die polisie beboet ons met £60 as iemand oortree. Omdat ons in sulke klein plekkies bly, is hierdie toegewing absoluut noodsaaklik, want sommige mense het nie eers tuine nie.
Elke Donderdagaand om agtuur kom die hele Engeland uit hul huise vir die clap for carers wanneer ons vir vyf minute vir die NHS(National Health Service) en werkers in sleutelposisies hande klap – dit is ongelooflik om te ervaar.
Ons het in ons dorp The Teddy Hunt waar kinders hulle teddies in die vensters wegsteek en as jy saam met Pappa en Mamma vir jou een uur gaan stap, soek almal teddies en sit dit dan op ons Harpenden Facebook-blad om te sien wie het die meeste teddies gevind. Ons het ook die Rainbow Challenge waar al die kinders ‘n reënboog teken of verf en opplak in hulle vensters met die woorde We are all in this together.
Ons het nog steeds aflewerings van Amazon en kosaflewerings word sterk aanbeveel, ook die afleweraars handhaaf streng sosiale distansiëring.
Ons regering het onmiddellik finansiële ondersteuning vir almal ingestel en miljoene beskikbaar gestel vir die furlough scheme en privaat besighede.
Alle persone met onderliggende siektes en bekend aan die NHS (daar was 1.5 miljoen mense) is onmiddellik onder ’n 12 weke lockdown gesit sonder die opsie om te gaan oefen, met ’n ondersteuningstelsel van mense wat kos aflewer, hulle bel vir ‘n daaglikse geselsie, ens.
Die Engelse kultuur is oor die algemeen nie so spontaan soos die SA-bevolking nie. Die eerste ding wat my opgeval het tydens ons uurlange daaglikse oefening, is dat almal skielik glimlag en groet – glo my, nie iets wat natuurlik voorkom in Engeland nie. Ook om families te sien saam oefen – dis wonderlik om te sien hoeveel families stap en gesels.
Die ongelooflike ondersteuning van die publiek aan bejaardes, weerlose mense en werkers in sleutelposisies is wonderlik. Binne die eerste twee dae van lockdown het die verskillende strate in Harpenden spotpoints gestig met ‘n koördineerder om te verseker dat almal in die straat kos en hulp het – kaartjies is by almal se deure ingegooi met die kontakpersoon se nommer.
Ook ongelooflik is die 480 000 vrywilligers – om te help met medisyne- en kosaflewerings, werk in hospitale – wat na vore gekom het.”
Gesondheidsdienste paraat
“Alle care homes wat na bejaarde mense kyk, is afgesper en hulle mag geen besoekers ontvang nie. Die carers wat na hulle kyk, dra te alle tye personal protective equipment. Ons het ‘n groot musiekkultuur in Engeland en daar is individue wat buite die vensters van die care homes staan en sing om die bejaardes te vermaak.
Ons regering het in twee weke vyf nuwe hospitale, elk met 4000 beddens,ingerig – dit is exhibitioncentres wat omgeskakel is in volle werkende hospitale.”
Talle afgetrede NHS-werkers en -dokters het terugkeer na die hospitale om te help met die pasiënte.
Selfoonverskaffers het gratis data en fone verskaf aan alle NHS-werkers.
Ons liefdadigheidsorganisasies, wat ook groot is in Engeland, lewer daagliks kos af by die hospitale vir die NHS-werkers.”
So beskerm ons onsself
“Daar is sommige mense wat maskers dra, maar ons regering moedig dit nie aan nie. Die polisie het geïnfekteerde maskers opgetel op die strate, so ons dra nie maskers nie.
Ons gaan nie werk toe nie en almal werk van hulle huise af. Ek is ‘n leadership and management senior coachvir Paragon Skills. Ek werk nie in ‘n kantoor nie, maar oor die algemeen van die huis af, maar bied werkswinkels en individuele lesse aan in die leerders se werkplek. Ek word nog voltyds betaal omdat ons nou al ons leerders oor afstand sien – ek bespreek ‘n besoek met hulle en voltooi dan hulle curriculum oor Microsoft Teams.”
So bly ons op hoogte
“Al ons nuuskanale is 24/7 op Covid 19-statistieke en ons luister elke dag na ons regering se update. Ons kan ook vrae instuur na Sky News waar epidomoloë en professore asook sielkundiges en ekonome vir ‘n uur lank die vrae beantwoord.”
So lyk ons winkels
“Ons noodsaaklikste winkels is oop, bv. retail koswinkels en apteke. Hulle het ‘n tydslot ingestel waar kwesbare mense (gestremdes of ouer mense) asook ons NHS-werkers die eerste twee ure soggens mag gaan inkopies doen. Niemand anders word dan toegelaat in die winkels nie. Op Saterdae is die winkels ook die eerste twee ure net oop vir NHS-werkers en mense in sleutelposte
Ons mag slegs een-een winkels toe gaan vir die belangrikste kos en as ons gaan,word sosiale distansiëring toegepas. Binne-in die winkel word ons dopgehou en elke gang het ‘n werker wat kyk dat die verlangde afstand tussen mense gehandhaaf word.”
So maak ons
“Ons is nie regtig homesick nie. Ek verlang wel verskriklik na my seun en sy verloofde in Suid-Afrika.
Beide my man en my seun, Christiaan, is nou op furlough. Dit beteken dat alhoewel hulle besighede gesluit is, ontvang hulle nog steeds 80% van hulle salarisse. Ons oefen elke dag. Christiaan speel aanlyn speletjies waar hy kontak maak met al sy vriende op ‘n daaglikse basis. Ons is al drie redelike rustige mense wat daarvan hou om onsself besig te hou, so hulle lees en kyk nuus.”
Die pad vorentoe
“Ons het ‘n baie groot pub-kultuur in die land en daar is letterlik honderde pubs in een dorp. Daar is definitief ‘n paar wat nie weer sal oopmaak nie. Ons het ook ‘n baie sterk benefit stelsel waar jy kan geld eis as jy werkloos is. Tog sal dit die koopkrag in die land beïnvloed omdat dit net ‘n gedeelte van jou normale inkomste is. Daar is ongelukkig alreeds ‘n paar baie groot besighede wat onder administrasie is wat voor die Covid 19-uitbraak al probleme gehad het en dit was net die finale strooi.
Ons regering het egter baie finansiële hulp aangebied en oor die algemeen is die pond baie sterk. Tog sal alles duurder word as gevolg van die hele wêreld se resessie. Omdat hier baie werksgeleenthede sal wees en die werkloosheidsyfer oor die algemeen laag is, behoort die ekonomie gouer te herstel as in derdewêreldlande. Ons regering het ook ‘n wet ingestel dat geen huurders mag uitgesit word uit hul huise nie. Die meeste banke en motorhandelaars bied ‘n drie maande holiday periode aan op motorfinansiering en verbande en slegs 0.25% rente op enige lenings wat in dié tyd aangegaan word.”



