Die arbeidshof het op 17 Maart 2020 uitspraak ten gunste van Solidariteit gelewer in ’n saak waar een van sy lede in die SAPD valslik van rassisme aangekla is. Dit volg nadat die SAPD geen reaksie getoon het op ’n formele grief wat reeds op 5 September 2018 ingedien is nie. Solidariteit het gevolglik die arbeidshof genader.
In die uitspraak is daar bevind dat die SAPD onmiddellik departementele stappe vir ernstige wangedrag, naamlik onbillike diskriminasie, teen die skuldige moet instel. Die SAPD is ook gelas om vergoeding aan kolonel Janse van Vuuren te betaal vir die onbillike diskriminasie waaraan sy onderworpe was, en vir die SAPD se versuim om die nodige stappe ingevolge die Wet op Billike Indiensneming te doen.
“Dit is welbekend dat daar verskeie sake in die SAPD is waar ondergeskiktes valse klagtes van rassisme teen hul bevelvoerders open wanneer bevelvoerders poog om dissipline en orde in die werkplek te bevorder. Dit is ook die geval in hierdie spesifieke saak van hierdie bevelvoerder wat ons verteenwoordig. Hierdie uitspraak bevestig ondubbelsinnig dat dit nie deur die howe geduld sal word nie,” sê Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit se openbare sektor.
“Dit is werklik jammer dat ’n werkgewer soos die SAPD, wat ’n wetstoepassingsorganisasie is en veronderstel is om onpartydig en apolities te moet wees, en konsekwent teen wetsoortreders moet optree, deur ’n hofbevel gedwing moet word om die wet na te kom,” voer Barnard aan.
“Hierdie saak skep werklik ‘n uitstekende presedent vir Solidariteit. Werkgewers sal ook moet kennis neem van hul verpligting soos vervat in artikel 60 van die Wet op Billike Indiensneming. Die impak van hierdie uitspraak sluit alle werkgewers in die Staatsdiens sowel as die privaat sektor in. Hulle sal voortaan proaktief en daadwerklik moet optree om diskriminasie in die vorm van valse klagtes van rassiste uit die weg te ruim,” sluit Barnard af.
Renate Barnard
Sektorhoof: Openbare Sektor
079 693 5809



