FiND iT kuier tydens #lockdown in Buckinghamshire, Londen

Deel hierdie storie / Share this story

Shirley Gilks Oosthuysen is ’n gebore Suid-Afrikaner wat tans in Milton Keynes net buite Londen woon. Ons gesels met haar oor hoe die inperking in Londen werk en hoe dit haar en haar gesin affekteer.

Wanneer het die Covid-19-uitbraak ’n effek op jou gehad?

“Moontlik toe daar vir almal gesê is om van die huis af te werk. Toe besighede en restaurante toemaak, die skole gesluit het en ek en my man en ons kind saam ons dae by die huis moes begin deurbring.”

Hoe hanteer julle land die uitbraak?

“Ek sou sê dis absoluut ongelooflik. Die regering het verskillende skemas om individue en besighede te ondersteun. Die NHS-hospitaal se maatreëls is ook ongelooflik. Die samesyn, ten spyte van die sosiale distansiëring, is wonderlik. Almal kyk uit vir mekaar en loer gereeld by mekaar in. Papiertjies met nommers om te bel wanneer ons iets nodig het, word onder ons deure ingestoot. Elke Donderdagaand om 20:00 het almal byvoorbeeld buite gaan staan en vir ’n minuut vir NHS hande geklap om dankie te sê. Ten spyte van die feit dat dit maar ’n vreemde tyd is waardeur ons gaan, ondersteun almal mekaar.”

Gaan jy uit met ’n masker en hoe werk dit wanneer jy wil inkopies doen of werk toe moet gaan?

“Ek werk van die huis af. Ek was nog glad nie by ’n winkel sedert die inperking begin het nie. My man gaan een keer ’n week na sentrale Londen vir werk. Verder is my man maar die een wat goedjies gaan kry wanneer ons dit nodig het. Ons probeer uitgaan tot die minimum beperk.”

Hoe lyk julle winkels?

“My man sê daar is lang toue buite die winkels en ’n eenrigting-stelsel in die winkel. Nie almal dra handskoene en maskers nie, maar almal gehoorsaam die reëls oor sosiale distansiëring. Trollies word ook gereeld goed gedisinfekteer.”

Watter werk doen jy en ontvang jy steeds jou volle salaris?

“Ek het eintlik twee werke. Vir een besigheid is ek ’n persoonlike en kantoorassistent. Ek ontvang gelukkig steeds my volle salaris omdat ek steeds van die huis af kan werk. Ek werk dan ook op ’n vryskutbasis vir ’n mode-ontwerper. Ons het nog  nie komplikasies ervaar nie. Ek weet egter nie hoe lank dinge daar nog so glad sal verkoop nie. Ja-nee, ek werk nog baie hard en is baie gelukkig om nog al twee my werke te hê.”

Doen Londen dinge anders as byvoorbeeld Suid-Afrika?

“Wel, ons kan steeds drank en sigarette koop! Ons kan ook gaan stap. Ons word eintlik aanbeveel om een maal per dag te gaan stap om die nodige oefening in te kry. Alhoewel ons nie regtig binne die huis gebonde is nie, maar inwoners gehoorsaam die reëls steeds. Ons is ook baie gelukkig omdat ons reg langs ’n dam bly.

Voel jy in hierdie tyd meer homesick?

“Ja, nogal. Om te weet jy kan nie sommer op die eerste vliegtuig na Suid-Afrika klim om by vriende en familie te gaan kuier nie. Mens is ook maar bekommerd oor wat jy sal kan doen wanneer iets met een van hulle gebeur. Die mediese hulp wat daar beskikbaar is vir diegene wat nie ’n mediese fonds kan bekostig nie, is maar redelik beperk.”

Hoe ervaar jou kind die inperking?

“Ethan is klein. Hy word eers in Mei drie jaar oud. Ons is dus in ’n mate gelukkig, want hy het nie skoolwerk wat steeds afgehandel moet word nie. Hy verlang definitief na sy maatjies! Die mammas in sy klassie is almal deel van ’n WhatsApp-groepie, waar die kleintjies vir mekaar video’s stuur of mekaar bel. Omdat hy so klein is, is hy nog baie aanpasbaar. Hy speel tog lekker by die huis. Die tuin en die dam om die huis maak dit darem moontlik om bietjie uit te kom.

Waar lees jy jou nuus en hoe bly jy op hoogte?

“Ons kyk daagliks om 17:00 na BBC News. Hulle dek alles wat aangaan, wat om te verwag ensovoorts.”

Watter werk doen jou man?

“My man moet ook van die huis af werk. Hy gaan gelukkig net een keer per week in Londen toe. Hy gebruik sy eie vervoer en maak so min moontlik van publieke vervoer gebruik.”