FiND iT kuier tydens #lockdown op Jeju-eiland, Suid-Korea

Deel hierdie storie / Share this story

JEJU – Helena Bruwer, oud-Paarliet, woon en werk al amper twee dekades in Suid-Korea. Sy gee Engelse klasse vir laerskoolkinders. FiND iT het by haar verneem oor hoe sy die wêreldwye #lockdown ervaar.
Sy wys ook vir ons hoe dit buite haar blyplek in die straat lyk.

Einde Januarie het dinge verander

“Ek woon al ‘n paar jaar hier op die eiland, maar einde Januarie, begin Februarie, is kontrakhernuwings vir onderwys gekanselleer. Studente het begin wegbly van die na-uurse klasse. Reisreëlings is beperk. Veral buitelandse onderwysers kon nie meer hierheen reis nie. Chinese studente wat China toe is vir hulle Nuwe Jaar het hulle terugkeer uitgestel of gekanselleer. Almal het maskers begin dra, veral by die werk. Ons winkels is baie stiller as normaal, maar dit begin nou weer stadig besiger raak. ‘n Mens sien baie min klein kinders en bejaardes op straat.”

Helena Bruwer

Uitstekende maatreëls

“Suid-Korea hanteer sover die situasie uitstekend. Hulle track and trace enige person wat oorsee was en/of simptome toon. Inligting word daagliks op datum gehou via ‘n webblad en SMS’e. Drive-thru toetssentrums word gebruik om personeel en tyd te bespaar. En hulle is baie streng oor kwarantyn vir Covid 19-pasiënte. Algemene kwarantyn geld vir hoërisiko stede/ areas soos Daegu, maar nie elders nie. Skole is wel gesluit sedert die lentevakansie. Aanlyn klasse vir hoërskoolleerlinge en universiteitsstudente het die afgelope week begin; laerskole het op 20 April heropen.”

Dra van maskers algemeen

“Weens die hoë mate van lugbesoedeling en plastiesesnykunde-toerisme is mense in Suid-Korea gewoond daaraan om maskers te dra. Dit het baie vinnig vir almal ‘n daaglikse gewoonte geword, wat vinnig ‘n tekort aan maskers veroorsaak het. Die verkoop en prys van maskers word nou streng deur die regering beheer. K94-maskers kan slegs met die toon van ‘n ID-kaart by apteke gekoop word, twee per persoon, op ‘n dag wat deur jou geboortejaar bepaal word.


“Ons dra maskers vir inkopies doen, werk, op openbare vervoer en op enige plek waar groepe saam is, of in klein, inperkende areas soos hysbakke”.

Persoonlike impak

“Ek gee Engels by ‘n taalakademie. My kontrak was einde Februarie klaar, maar is weens die pandemie nie hernu nie. Baie skole betaal slegs 50% of 70% van salarisse en heelwat mense het hul poste verloor of is op onbetaalde verlof geplaas.


“Ek is nie juis homesick nie – ek het baie goeie Suid-Afrikaanse vriende hier en ons SMS en maak video-oproepe huis toe. Ek was wel baie angstig toe my ma onlangs skielik siek geraak het en ek nie dadelik kon huis toe vlieg sonder om moontlik die virus saam met my te neem en haar/ my familie/ SA-mense aan te steek nie. Ek woon tans by my naaste vriende en ons is versigtig, maar nie bevrees nie.”

Ekonomiese effek

“Alhoewel daar geen lockdown in Suid-Korea is nie, word die effek van die virus duidelik gevoel. Minstens 195,000 mense het hul werk verloor. Die regering verskaf verligtingspakette aan sommige besighede, maar ek dink die pandemie gaan seker minstens ses maande of langer ‘n invloed hê. Die toerismebedryf op Jeju is in ‘n groot mate tot stilstand gebring.”

Bly op hoogte

“Ek bly op hoogte van die nuus deur bulletins en SMS’e met plaaslike en nasionale inligting, Covid-19 live updates op ‘n webblad en per geleentheid Facebook, CNN en BBC.”

Wat uitstaan

“Die twee uiterstes staan vir my uit – aan die een kant help en beskerm mense mekaar, maak maskers en lewer noodsaaklikhede vir ouer en minder gegoede groepe. Aan die ander kant toer mense deur die land of woon groot groepbyeenkomste by terwyl van hulle simptome toon of vir toetsuitslae wag, sonder om aan ander se gesondheid te dink. Dis ook vir my ‘n vreemde gesig om daagliks so min kinders/ skoliere op straat te sien, waar daar gewoonlik honderde kinders tussen skole en akademies beweeg en luid en vrolik in groepe by geriefswinkels en kosstalletjies op straat te sien is. Sypaadjies is nou feitlik leeg. ‘n Baie vreemde gesig en aardige gevoel.”

Kyk hoe lyk Korea:

“Hierdie video is so twee weke gelede geneem, die middag om 15:00 wanneer die middle schools gewoonlik uitkom en die strate normaalweg vol vrolike, babbelende tieners is. Met die skole gesluit en die studies aanlyn aangebied, is die strate leeg en sien ons min mense op straat – feitlik geen klein kinders, tieners of bejaardes nie.”