Impak van Covid-19 op dieresentrums

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD – Tydens die inperking hang onsekerheid soos ’n donker wolk oor nie-winsgewende organisasies (NWO) soos Die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sankub), wat net met die donasies van skenkers ongedeerd voort kan gaan om na diere in hulle sorg om te sien.

Dr Stephen van der Spuy, hoof uitvoerende beampte by Sankub, sê hul veearts- en voël-afdelings wat noodsaaklike dienste lewer, sowel as die administrasiepersoneel hou steeds die fort op volle kapasiteit tydens die inperking vanaf die huis.

Hy sê: “As ’n NWO is ons volkome van skenkings afhanklik om ons werk moontlik te maak. Die gevolge van Covid-19 het reeds ’n onmiddellike afname in befondsing van skenkers in Noord-Amerikaanse en Europese vastelande.”

Van der Spuy sê 36% van hulle jaarlikse inkomste word van hierdie twee vastelande verkry. 

Hulle is ook gelukkig vir die plaaslike helpers, interne, asook die vrywilligers van die buiteland wat agtergebly het om vir die 180 voëlpasiënte by Sankub se Tafelsig-tak te sorg.

Danksy kernpersoneel word daaglikse-take steeds uitvoer en kon daar elke week voëls in die natuur vrygelaat word. Dit sluit in enkele langtermyngevalle waar voëls met gebreekte bene herstel het. Seevoël- en pikkewynbewaarders is steeds besig met hul moniterings- en reddingswerk by die kolonies en sorg dat die voëls wat redding nodig het, vinnig na Sankub gebring word.

Inkomste negatief beïnvloed

Van der Spuy sê: “Wat inkomstestrome betref, is Sankub hoofsaaklik afhanklik van die inkomste wat deur begeleide toere, klasse en van die winkels op die perseel by beide sentrums in Tafelsig en Port Elizabeth gegenereer word. Die inperking wat vanaf 26 Maart ingetree het, het hierdie inkomste heeltemal stopgesit en die negatiewe uitwerking op ons inkomste is ’n probleem waaraan ons baie aandag gee. Ons is bly dat sommige van ons bewaringsvennote bevestig het dat ons op hul finansiële bydrae ongeag die teenspoed kan staatmaak.”

Hy sê: “Gedurende hierdie wêreldwye pandemie hou ons in gedagte dat seevoëls en ander natuurlewe in die see steeds weens oliestortings op see in gevaar is, omdat die vervoer van belangrike goedere regoor die wêreld, insluitend brandstof voortduur.”

Bewaring van diere stop nie

“Sankub bly voorbereid en is op standby om te reageer op enige oliestortings wat seevoëls gedurende hierdie tyd beïnvloed. Ons gaan voort om ons rehabilitasie- en bewaringswerk te behou en beloof om soos altyd ons kernfunksies met u, ons lojale ondersteuners aan ons kant, te handhaaf. Wees veilig en koester die oomblikke wat ons moet reflekteer, genees en groei as ‘n wêreldwye front om deur die maande wat voorlê te kom,” sluit van Van der Spuy af.