Drankverbod blý

Deel hierdie storie / Share this story

SOWETO – President Cyril Ramaphosa het gister die Gautengse Drankforum se versoek om die alkoholverbod gedurende die inperking te lig, geweier.

Volgens die presidensie probeer die regering geweldsmisdaad, motorongelukke, noodgevalle en oorvol hospitale voorkom deur die koop en verkoop van drank gedurende dié tyd te verbied.

Die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Vish Naidoo, sê die Gautengse polisie het gister vier verdagtes in Soweto in hegtenis geneem ná hulle onwettig drank gekoop en verkoop het.

Die polisielede was besig om die Orlando-gebied in Soweto te patrolleer, toe hulle ’n verdagte motor en drie manspersone opgemerk het. “Die sedan is deursoek en toe die polisie drank ter waarde van ongeveer R500 in die motor vind, is die drie verdagtes ondervra. Die polisie kon toe uitpluis waar hulle die drank gekoop het,” sê brig. Naidoo.

Die verdagtes het die polisie tot by die sjebeen waar hulle die drank gekoop het, geneem. ’n Verskeidenheid soorte drank ter waarde van R1,5m is op die perseel gevind en deur die polisie gekonfiskeer.

“Die drie verdagtes en die eienaar van die sjebeen is in hegtenis geneem en hulle sal na verwagting Maandag op aanklag in verband met die onwettige verkoop van drank ingevolge die Wet op Rampbestuur in die landdroshof verskyn,” sê die polisiewoordvoerder.