Om jou hart te breek en te sterf van die pyn klink soos iets uit ’n storieboek of ‘n dramatiese fliek. Mediese literatuur van jare gelede dui egter al op gevalle waar persone wat perdfris en voorgekom het, skielik ná ’n natuurramp of die dood van ’n geliefde, oorlede is.
Traumatiese lewensgebeurtenisse, soos ’n ernstige liggaamlike besering, ’n emosionele herinnering of die dood van ’n geliefde, kan die sogenaamde gebroke hart-sindroom veroorsaak. Net soos enige ander kardiovaskulêre siekte, het gebroke hartsindroom behoorlike diagnose en behandeling nodig, sê kardioloog Timothy Martin.
Wat is gebroke hart-sindroom?
Dr. Martin verduidelik gebroke hart-sindroom is jou hart se reaksie op enige diep, ontstellende emosie. Wanneer jy ’n emosie soos dié ervaar, verhoog dit die streshormone wat deur jou liggaam vrygestel word. Jou hart werk oortyd om die vloei van hierdie hormone te hanteer.
Persone wat reeds met hartprobleme sit en dan boonop aan gebroke hart-sindroom ly, kan fisieke pyn in hul bors ervaar. Die borspyn veroorsaak dan nog streshormone wat vrygestel word, wat uiteindelik jou hart ooreis en hartversaking veroorsaak.
Volgens Martin kan selfs topfiks en gesonde mense met gebroke hart-sindroom gediagnoseer word.
Simptome
Simptome soos skielike en intense borspyn, kortasem, onreëlmatige hartkloppings, lae bloeddruk, of floutes weens jou hart se onvermoë om genoeg bloed te pomp om aan jou liggaam se vereistes te voldoen, is alles simptome van dié sindroom.
Die rol van depressie
Depressie, paniekaanvalle en angstigheid is verswarende omstandighede vir hartsiektes. Pasiënte wat hartprobleme ervaar, moet dus te alle tye na hulle emosionele welstand oplet. Navorsing dui op ’n probleem met breinfunksies as die primêre oorsaak van depressie. Die breinfunksies beheer weer liggaamsfunksies.
Jy kan dus deur jou gedagtes en algehele denkpatroon positief te hou, jou gebroke hart weer heel maak.
Positiewe emosies soos liefde, waardering en deernis stel volgens navorsing goeie hormone in jou liggaam vry. Jou hart kan as gevolg van dié hormone dan sy werk doen. Die boodskap wat dan van die hart na die brein gestuur word, is positief en veroorsaak die warm gevoel om gelukkiges se harte.
Dankbaarheid
Dr. Rollin McCraty van HeartMath-instituut meen ’n positiewe gesindheid vol dankbaarheid en waardering is beter medikasie as enige pille of strope. Hy sê die bewustheid van die emosies in jou wanneer jy dankbaarheid en vrede ervaar, is ’n baie veilige en goedkoop metode om bloeddruk te verlaag of kardiovaskulêre gesondheid te verbeter.
Baie mediese professors en navorsers verwonder hul steeds aan die verbintenis tussen die hart, emosionele ervarings en die dood.



