Bekende kuierplek oopgebreek, besteel

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Een van die stad se gunsteling kuierplekke, Chellos, is vanoggend deur ’n manspersoon oopgebreek en besteel.

Die verdagte het die sekuriteitsdeur sowel as die agterdeur stukkend gebreek, kameras gebreek en drank gesteel.

Genie Coetzer, eienaar van Chellos, sê sy is nog onseker presies hoeveel drank gesteel is. “Die kamera wys hoe die man omstreeks 09:15 oor die muur spring. Hy het die kamera gebreek. Omstreeks 09:47 het die binneste kamera hom opgetel waar hy besig was om die binneste deur te breek. Ek het direk daarna ’n SMS van my sekuriteitsmaatskappy afgekry wat sê die winkel se alarm het afgegaan.”

Genie sê haar man het na die winkel toe gegaan om te gaan kyk wat aangaan. Hy en die sekuriteitsbeampte het gelyk daar opgedaag en die winkel oopgesluit. “Mens kan op een van die binneste kameras sien hoe die man by die agterdeur uithardloop toe my man die voordeur oopsluit. “

Die verdagte het ongelukkig weggekom. Genie sê sy dink klein besigheidseienaars word nou tydens die inperking geteiken. “Mense is desperaat vir drank. Ek het geen keuse as om my voorraad van die perseel af te verwyder nie.”

’n Ander bekende kuierplek is na bewering ook gistermiddag geplunder, maar FiND iT kan nog nie besonderhede bevestig nie.