Twee vinnig vir diefstal uit erf vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Twee jong verdagtes is vanoggend omstreeks 10:50 in Bartleplek in Beaconsfield vasgetrek nadat hulle glo besittings uit ’n erf in Mainstraat gesteel het.

Een van die verdagtes het in ’n veld op ’n oop erf van die Sol Plaatje-munisipaliteit weggekruip.

’n Inwoner in die straat het om hulp geskree toe een van die verdagtes oor die muur in haar erf gespring het.

Bure oorkant die straat het kom help en kon die eienaar van die gesteelde goedere help om die tweede verdagte vas te trek.

Na bewering het die verdagtes ’n grassnyer en ’n skopfiets gesteel. 

Volgens die eienaar wou die verdagtes met nog gereedskap wegkom, maar is afgeskrik deur hulle wat tuis is.

Volgens ’n omstander sê die verdagtes glo is dit nie die eerste keer wat hulle gesteel het nie. Hulle sê hulle steel omdat hulle honger is.

FiND iT het navraag by die Kimberley-polisie gedoen.