KIMBERLEY – Jong Kimberliet en oudleerling aan Hoërskool Diamantveld, Rikus Pieters (18), verteenwoordig vanjaar Kimberley en die Noord-Kaap by KykNet se gewilde talentsoek-kompetisie, Maak My Famous.
Pieters het in 2019 matrikuleer en het vanjaar as musiekonderwyser by ’n privaatskool in Kimberley begin werk. Oor naweke tree hy graag op by gewilde kuierplekke in Kimberley en geleenthede soos troues.
Maak My Famous is ’n televisieprogram en talentsoek-kompetisie wat opkomende kunstenaars die geleentheid bied om sy of haar drome te verwesenlik en as’t ware famous gemaak te word. Die reeks word seisoenaal op KykNet uitgesaai. Die eerste episode van dié seisoen, waarin die 18-jarige Rikus Pieters sal verskyn, sal op 29 April uitgesaai word.
Pieters sê hy wil graag ’n inspirasie vir ander jong en opkomende kunstenaars in kleinerige dorpies wees. Die gevoel wanneer jy agterkom hoeveel ander passievolle musiekkunstenaars daar is en besef jy is nie alleen nie, is vir hom onbeskryflik.
“Dis moeilik as jy in ’n klein dorp grootword. Daar was nooit regtig iemand wat saam met my kon droom oor musiek en sing nie. Ek is bevoorreg om die geleentheid te kon kry om hier te wees. Hier is ek tussen soveel ander ambisieuse en ywerige kunstenaars wat deel in die liefde,” vertel Pieters. “Ek kan dit nie beskryf nie.”
Pieters vertel hoe hy in 2017 deur ’n talentsoek-agentskap genooi is om in New York te gaan sing. “Jy sing voor ’n klomp producers wat besluit of hulle jou wil help om jou professionele musiekloopbaan af te skop. Ek kon weens finansiële redes ongelukkig nie gaan deelneem nie.”
“Ek het eers omtrent ’n jaar later vir die eerste keer vir Maak My Famous ingeskryf,” sê Pieters. “Ek het my oudisie-video ingestuur, maar ek is net nooit na die show genooi nie. Iewers in 2019 het ’n vriend aan my gekarring en gesê ek moet weer inskryf. Ek het ingeskryf en kort daarna van my inskrywing vergeet. Ek was totaal onkant gevang toe ek die oproep kry wat sê ek gaan op KykNet wees!”
Hy sien hierdie kompetisie as ’n groot leerkurwe in sy sangloopbaan. “Hier is ongelooflike mentors, awesome coaches en om so na aan bekendes soos Emo Adams en Tarryn Lamb te kan werk, is ’n huge eer.”




