Korona-toetse binnekort makliker: Mobiele laboratoriums

Deel hierdie storie / Share this story

“Die departement van gesondheid bly onseker oor of die inperking genoeg sal wees om hierdie virus hok te slaan,” sê dr. Zwelini Mkhize, minister van die departement van gesondheid. Hy het tydens ’n Covid-19-inligtingsessie 60 nuwe mobiele Covid-19-toetseenhede bekendgestel.

Dr. Mkhize het tydens die inligtingsessie gesê die aantal bevestigde Covid-19 gevalle in SA is min. “As die grootte van Suid-Afrika se bevolking en die uitdagings wat ons land in die gesig staar, in ag geneem word, is die 1 380 gevalle maar min,” sê hy. “In hierdie stadium is dit vir ons land baie belangrik om so gou moontlik persone met die virus te diagnoseer om verspreiding te voorkom.”

Die laboratoriums wat in Suid-Afrika persone vir Covid-19 kan toets, moes in die afgelope tyd byna meer toetse hanteer as wat vir hulle moontlik is. Die 60 nuwe mobiele laboratoriums het ook al die nodige toerusting om pasiënte vir Covid-19 te toets. Hierdie mobiele toetsstasies sal binnekort gemeenskapslede en persone wat moontlik met ’n ander geïnfekteerde in kontak was, by hul huise toets.