Pasiënte voel uitgebuit oor Covid-19-toetse

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Pasiënte wat R995 vir spoedige privaat Covid-19-toetse betaal het voel uitgebuit nadat uitslae vertraag is toe ’n monster verkeerdelik na die staat se laboratorium gestuur is.

In dié stadium word Covid-19-toetse slegs deur PathCare, Lancet en die staat se Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gedoen.

Alhoewel die staat se toetse gratis is, vat dit baie langer om uitslae te lewer. Pasiënte het egter die opsie om teen ’n fooi van R995 by ’n privaat laboratorium soos PathCare of Lancet te laat doen.

Denise Coetzee, woordvoerder vir die Gariep Mediclinic, sê hulle het 14 toetse vir Covid-19 gefasiliteer waarvan een positief was. Sy sê die wagtydperk vir uitslae is ongeveer tussen drie en vyf dae. “Nios se uitslae neem langer as gevolg van die groot lading wat hulle hanteer.  Geen toetse word plaaslik gedoen nie. Die monsters word na verskillende depots vervoer waar dit getoets word.”

’n Pasiënt het FiND iT gekontak nadat sy uitslae vir Covid-19-toetse waarvoor hy PathCare betaal het, vertraag is toe sy monster verkeerdelik na ’n Nios-laboratorium gestuur is.

Hy is glo nie al een nie. Nog ’n pasiënt het in ’n stemboodskap bevestig dat hy ook lank vir sy uitslae gewag het. Die pasiënt se uitslae was glo onmiddellik beskikbaar toe hy vir sy geld terug gevra het.

Die pasiënt wat FiND iT genader het sê hy was bekommerd dat hulle Nios se gratis toetse misbruik om pasiënte vir die fooi uit te buit.

Roudene Fourie, woordvoerder van PathCare, sê dit is die pasiënte se keuse om hul monsters óf gratis na Nios te stuur óf teen ’n koste deur PathCare te toets. In die geval waar Nios verkies word, vergemaklik PathCare die proses om steeds die monster gratis te neem en dit na die naaste Nios-laboratorium te stuur.

Sy sê in dié geval was die pasiënt se monster weens ’n administratiewe fout verkeerdelik na Nios gestuur.  

Ons het regstellende stappe geneem om te verseker dat ons geen verdere foute van hierdie aard begaan nie en het die pasiënt ’n volledige terugbetaling aangebied, sluit Fourie af.

Indien enigeen wat vir Covid-19-toetse betaal het ’n soortgelyke vertraging in die lewering van uitslae ervaar, kan jy vir Michael e-pos by [email protected] met jou inligting.