“Daardie oomblik wat jy daai klein lyfie vir die eerste keer vashou, die oomblik wanneer sy haar ogies oopmaak en jou vir die eerste keer sien, die eerste keer dat jy jou babatjie bad. Dis alles oomblikke wat ek en my man nou nooit sal ervaar nie,” sê Zelodia Weenink (39) van Pretoria.
Weenink is een van vele mammas wat gedurende hierdie inperkingstydperk geboorte moet skenk.
“Ek was nog nooit so bang en onseker soos wat ek nou is nie. Om hierdie ding sonder my man, my ma of ’n vriendin aan te pak, is iets verskrikliks. Ek is stoksielalleen,” sê sy ontsteld.
Sy en haar man, Morné Weenink, beplan om hulle babadogtertjie Olivia te noem. Wat egter vir dié paartjie ontstellend is, is die feit dat Zelodia gehoor het sy mag gedurende die geboorte van hulle dogtertjie geen besoekers ontvang nie. Weenink sê sy verstaan haar man mag haar slegs tot by die hospitaal neem, maar hy mag glad nie die hospitaal binnegaan nie.
Weenink het drie kinders in die lewe gebring en het met twee van hulle ’n keisersnee gehad.
“Na die koronavirus uitgebreek het, het ek by my dokter probeer uitvind of ek eerder normaal geboorte kan gee. Met die hulp van ’n voedvrou sou ek by my huis kon geboorte gee en kon my man daar wees om my te ondersteun. Omdat ek al twee keer ’n keisersnee gehad het, val ek egter in ’n hoërisikogroep en het my dokter gesê ’n keisersnee is al opsie,” vertel sy hartseer.
Weenink sê haar afspraak vir die keisersnee is vir 28 April, maar reken dat haar dogtertjie miskien vroeër haar opwagting sal maak. “Met my vorige swangerskappe het ek nog nie een maal later as 37 weke gewag nie.”
“Ek beweeg maar versigtig rond. Ek en my man hoop en bid dat Olivia tot ná die lockdown sal wag. Dis ons laaste kind. Dis die laaste keer wat ons die ervaring kan deel, maar nou lyk dit byna onmoontlik.”
“Ná ’n keiser is ’n vrou nie regtig mobiel nie. Die wete dat ’n wildvreemde verpleegster my dogtertjie se eerste paar oomblikke in die wêreld sal beleef, maak my só hartseer. En hoe kan ek verseker dat my kind nie die virus opdoen nie? Die verpleegsters word soveel meer aan kieme blootgestel, waar my man gesond is en by die huis was die afgelope tyd, geen gevaar vir Olivia se gesondheid inhou nie.”
Weenink vertel ook hoe bekommerd sy is oor die feit dat sy nog ‘n paar bababenodighede soos ’n karstoeltjie en ’n bababedjie moet aanskaf. Weenink was onder die indruk sy sou dit steeds gedurende inperking by die winkels kon koop.
“Aan al die ander mammas wat normaal kon geboorte skenk, wees baie dankbaar. Jou man, jou vriendin of jou ma kon jou hand vashou en vir jou sê dat jy sterk is en moet vasbyt. Jou babatjie se boeties en sussies kon hulle nuwe bababoetie of –sussie vashou. Jou familie kon by jou in die hospitaal kom kuier. Dis alles dinge wat ek in hierdie tyd nie sal kan ervaar nie. Moenie die klein dingetjies for granted vat nie.”




