COVID-19: Net een sterfte in SA

Deel hierdie storie / Share this story

Daar is Vrydag in ‘n persverklaring deur dr. Zwelini Mkhize, minister van gesondheid, aangekondig twee persone in SA is reeds weens Covid-19 oorlede.

Sinenhlanhla Jimoh, senior kommunikasiebestuurder van die nasionale instituut vir oordraagbare siektes, sê egter daar is nog net een sterfte in die Wes-Kaap bevestig.

Weens die spoed waarteen die aantal positiewe virusgevalle in SA groei, het dié instituut hul hande vol.

Jimoh sê alhoewel hulle baie dankbaar is vir die besighede wat die uitbraak van die virus met dapperheid aandurf, is dit belangrik dat almal weet die toetse waarmee die pasiënte tans getoets word, diagnostiese molekule-toetse is.

Hierdie toetse word in gespesialiseerde laboratoriums gedoen en die uitslae kan nie vroeër as 24 tot 48 uur later verwag word nie.

Jackson Mthembu, minister van die presidensie, het op 27 Maart bekendgemaak altesaam 1 170 persone in Suid-Afrika is reeds positief vir Covid-19 getoets.