Vrae en antwoorde oor inperkingsperiode

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Een persoon per voertuig en geen sosiale beweging gaan tydens die inperking toegelaat word nie.

FiND iT het met Monwabisi Nkompela, premierskantoor se hoof van kommunikasie, gesels om meer duidelikheid te kry oor wat die inperking, wat vanaand in werking tree, gaan behels.

Kry geskeide ouers spesiale vrystelling om te reis om kinders tydens inperking vir gedeelde vakansies te vervoer?

Nkompela sê daar sal geen reis vir sosiale doeleindes tydens die inperking toegelaat word nie. Net reis vir noodsaaklike dienste en redes gaan toegelaat word.

Hoeveel mense mag in een voertuig ry?

Tensy jy ’n persoon vir mediese sorg neem, is net een persoon per voertuig toelaatbaar.

Nkompela sê selfs noodsaaklike dienswerkers word aangemoedig om alleen in ’n voertuig te reis.

Gaan persone soos byvoorbeeld kinderoppassers mag reis as hulle vir nodige personeel werk verrig?

Kindersorg, versorgers en huishulpe sal nie toegelaat word om werk toe te gaan nie. Hulle val nie onder noodsaaklike dienste nie.

“Laat ons voortgaan om die regulasies te bestudeer en ons mense met die regte inligting te help,” maan Nkompela.

Noodsaaklike dienste

Kategorieë van noodsaaklike dienste word beperk tot die volgende:

1. Mediese- en gesondheidsorg, sowel as  geestesgesondheid, laboratoriums- en ander mediese dienste;

2. Rampbestuur, brandweer, brandbestryding en nooddienste;

3. Finansiële dienste wat nodig is om die funksionering van die bank- en betalingsomgewing te handhaaf, insluitend die JSE en soortgelyke uitruilings, asook versekeringsdienste;

4. Produksie en verkoop van die goedere gelys in kategorie A;

5. Kruidenierswinkels, insluitend snoepwinkels (spaza shops);

6. Produksie, voorsiening en onderhoud van elektrisiteit, water, gas en brandstof;

7. Kritieke poste vir noodsaaklike regeringsdienste soos bepaal deur die hoof van die nasionale of provinsiale departemente, insluitend die betaling van maatskaplike toelaes;

8. Geboorte- en sterftesertifikate, en vervangingsidentifikasiedokumente;

9. Noodsaaklike munisipale dienste;

10. Versorgingsdienste en maatskaplike dienste wat verligting aan ouer persone, geestesongesteldheid, persone met gestremdhede, siekes en kinders bring;

11. Begrafnisdienste, insluitend lykshuise;

12. Wildbestuur, teenstropery, diereversorging en veeartsenykundige dienste;

13. Koerante, uitsaaiers en telekommunikasie-infrastruktuur en dienste;

14. Produksie en verkoop van chemikalieë, higiëneprodukte, farmaseutiese produkte vir die mediese of kleinhandelsektor;

15. Dienste vir skoonmaak, sanitasie, riolering, afval en vullisverwydering;

16. Dienste wat verband hou met die wesenlike funksionering van howe, regterlike beamptes, die meester van die hooggeregshof, balju’s en regspraktisyns wat vir daardie dienste benodig word;

17. Noodsaaklike SAID-dienste gedefinieer deur die Kommissaris van die SAID;

18. Polisie, vredesbeamptes, verkeersbeamptes, militêre mediese personeel en soldate, beamptes van korrektiewedienste en verkeersbestuursdienste;

19. Posdienste en koerierdienste met betrekking tot vervoer van mediese produkte;

20. Privaat sekuriteitsdienste;

21. Lugverkeersnavigasie, burgerlugvaartowerheid, vragvaart en dokwerfdienste;

22. Goud, goudraffinadery, steenkool en noodsaaklike mynbou;

23. Verblyf wat vir persone wat noodsaaklike dienste lewer, kwarantyn, isolasie gebruik word.;

24. Produksie, vervaardiging, verskaffing, logistiek, vervoer, aflewering, kritiese instandhouding en herstel ten opsigte van die lewering van noodsaaklike dienste, insluitende komponente en toerusting;

25. Vervoerdienste vir persone wat noodsaaklike dienste en goedere lewer, en pasiënte vervoer;

26. Dienste gelewer deur die uitvoerende gesag, parlementslede, lede van die provinsiale wetgewer, lede van plaaslike rade, die regbank, tradisionele leiers en nasionale ampsdraers van politieke, wat partye in die parlement verteenwoordig;

27. Kommissarisse van die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie, geslagskommissie, en die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe, en die openbare beskermer en adjunk-openbare beskermer; en

28. Vervoer en logistiek na buurlande ten opsigte van noodsaaklike goedere soos in kategorie A uiteengesit.

Vind die volledige inperkingsregulasies hieronder: