Toename van muskiete in stad

KIMBERLEY – Inwoners het ’n toename van muskiete in die stad opgemerk.

Beryl Wilson, departementshoof van dierkunde by die McGregor-museum in Kimberley, sê die stad en omliggende gebiede het onlangs aansienlike reënval ondervind.

Muskiete is altyd ’n probleem waar poele water en ander stilstaande watermassas voorkom.

Lewensiklus van die muskiet

Wilson sê ’n gedeelte van hul 4-fase lewensiklus word in water deurgebring.

Wyfies lê hul eiers op die wateroppervlak waar hulle aan mekaar vassit om “vlotte” te vorm.

Die larwes broei na ongeveer 48 uur in die water uit. Die eiers ontwikkel tot papies of “wrigglers” waaruit die vlieënde volwassene te voorskyn kom.

Afhangend van die temperatuur duur die hele siklus tussen sewe en 14 dae, sê Wilson.

Interessante feit: Manlike muskiete leef net vir drie tot vyf dae. Wyfies paar net een keer, maar leef baie langer.

Geen bewyse dat muskiete Covid-19 versprei nie

Covid-19 is ’n respiratoriese virus wat normaalweg via druppels in die lug of deur direkte kontak oorgedra word. Dit is nie ’n bloedinfeksie nie, sê Wilson.

Virusse benodig gewoonlik spesiale selle om te repliseer en muskiete het dit gewoonlik nie.

Daar is tans geen aanduiding of data wat daarop dui dat die nuwe koronavirus (of enige van die ander koronavirusse) deur muskiete versprei kan word nie, sê Wilson.

Gesondheidsbeamptes sluit egter nie die moontlikheid uit nie, aangesien daar nie veel oor die siekte bekend is nie, en daar ’n aantal ander virusse is wat deur muskiete en bosluise versprei kan word.

“Ek glo persoonlik, gegewe die aantal muskiete wat aangetref word, sou ons gesien het dat die virus vinniger versprei het as wat dit tans doen,” sluit Wilson af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: