August 6, 2021

Dienslewering tydens nasionale inperking

Foto deur Trans Tech.

KIMBERLEY – Basiese dienste soos vullisverwydering, water, elektrisiteit en sanitasie gaan steeds tydens die nasionale inperking deur die Sol Plaatje-munisipaliteit gelewer word.

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê verskeie dienste word deur die inperking geaffekteer.  Dit sluit motorregistrasies en die indiening van bouplanne en alle dienste wat nie noodsaaklik is nie, in. 

Matsie sê toegang tot biblioteke, openbare swembadens, oorde en parke word verbied. Gratis wifi-dienste gaan ook afgeskakel word om byeenkomste in sommige van hierdie gebiede te ontmoedig.

Alle aansoeke om leerling- en bestuurstoetse is tot na die inperkingsperiode uitgestel.

Nooddienste sal voortgaan om soos normaal te funksioneer, insluitend verkeersdienste soos deur die president uiteengesit, sê Matsie.

Gesinne sal deur die munisipale kantore in Wes-Einde bygestaan word, maar toegang tot begraafplase sal beperk word.

Matsie sê betaalpunte sal by die munisipale hoofkantoor sowel as by die tak in Morganstraat in Galeshewe beskikbaar wees, maar moedig inwoners aan om hul voorafbetaalde elektrisiteit by derdepartyverkopers soos supermarkte, vulstasies of deur hul mobiele apps aan te koop.

Aanlynbankdienste is beskikbaar vir die betaling van munisipale rekeninge deur Standard Bank rekeningnommer 040065367, met jou rekeningnommer as verwysing.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om tuis te bly,” sluit Matsie af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *