Skurwejantjies – resep

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Hoeveel van ons het met hierdie ou gunsteling grootgeword? Het jy ook jou ouma vir die resep gesmeek?

Aletta van Niekerk, ’n Kimberliet, vertel aan FiND iT haar storie oor hierdie gewilde lekkerny.

Van Niekerk sê haar ma het altyd vir die kleinkinders koekies gebak. “My oudste seun, Brendan Maguire, was vyf jaar oud toe my ma hom gevra het waarvoor hy lus is. Hy het sy ouma net grootoog aangekyk en vir haar gesê: ‘Wat van Skurwe Jannetjies?’ Hy het die ‘r’  vreeslik beklemtoon en dit is iets wat my nou nog bybly, veral as ek skurwejantjies bak.”

Het jy ook nou lus vir hierdie liplekker lekkerny? Volg net hierdie resep.

Bestanddele:

750 ml klapper

250 ml meelblom

400 g hawermout met groot vlokke (Jungle Oats)

375 ml suiker

2.5 ml sout

5 ml fyn kaneel

250 ml botter of margarien

45 ml gouestroop

5 – 10 ml koeksoda opgelos in 60 mℓ melk

Metode:

Verhit die oond tot 180°C.

Meng al die droë bestanddele met ’n groot vurk saam.

 Smelt die botter of margarien en stroop saam en meng goed.

Voeg die droë bestanddele by die stroopmengsel en meng goed.

Roer die koeksoda-oplossing by die bogenoemde mengsel en meng goed.

 Druk die mengsel ongeveer 1 cm dik in ’n gesmeerde bakplaat vas.

 Bak ten minste vir 20 minute.

Sny in blokkies terwyl dit nog warm is.

Lig die blokkies uit die pan en laat die gesnyde blokkies op ’n draadrak afkoel.

Hierdie resep sal ongeveer 72 porsies lewer. Bederf gerus jou gesin met skurwejantjies.