Covid-19: Eerste geval in Hartswater, Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

HARTSWATER – ’n Pastoor van Hartswater se vrou is glo Saterdag positief vir die koronavirus getoets. Sy is dus die eerste persoon wat in die Noord-Kaap met die virus gediagnoseer is.

Die pastoor en sy vrou was op 10 – 11 Maart by ’n kerkkonferensie in Bloemfontein en het vermoedelik die virus daar opgedoen. Die paartjie het Donderdag inligting ontvang dat een van die persone wat dieselfde konferensie bygewoon het, positief vir Covid-19 getoets het.

Sy vrou, wat tans glo in self-isolasie by die huis is, sê sy het teen Woensdag 18 Maart siekerig begin voel. “Ek het van Woensdag af ’n koors gehad wat net nie wou breek nie. Ek het myself Vrydag laat toets en Saterdag my toetsuitslae ontvang. Dit was positief. Ons wag egter nog vir my man se uitslae.”

Die pastoor en sy vrou het vier dogters wat ook vir die virus getoets gaan word. “Al die persone met wie ons in kontak was in die laaste ruk, is in kennis gestel van die uitslae en word tans opgespoor om getoets te word.”

Sy sê die departement is tans besig om ’n toetsstasie op Hartswater op te rig.

’n Bekommerde inwoner van Hartswater sê sy dink die virus is alreeds redelik versprei in dié dorp. “Ons was verlede Saterdag by ’n troue waar die pastoor en sy vrou ook was. Dit was voor president Ramaphosa se toespraak Sondagaand oor sosiale byeenkomste wat vermy moet word.” Sy sê hulle het minimale kontak met die pastoor en sy vrou gehad.

Die inwoner en haar man, wat beide in die afgelope week griepsimptome begin toon het, is nou ook in self-isolasie by die huis. Hulle sal vandag toetse laat doen om vas te stel of hulle ook die virus opgedoen het.

“Vandat ons die nuus ontvang het oor die persoon in Bloemfontein wat positief getoets het, is ek en my hele gesin in isolasie. Ons speel maar veilig en is sedert die nuus aan ons bekendgemaak is, in self-isolasie by die huis. Ons sorg maar dat ons warm drinkgoed en baie vitamiene C inkry.”