August 5, 2021

Munisipaliteit waarsku teen onwettige byeenkomste

Rooms-Katolieke Kerk in Rosebank.

KIMBERLEY – Daar gaan streng teen mense wat roekeloos in massas by onwettige openbare drinkplekke bymekaarkom, opgetree word, waarsku die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Dit volg nadat die polisie oor die naweek oortreders by Hulanastraat en by die Oppenheimertuine in Kimberley verdryf het.

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê lede van die publiek was nie verkeerd nie toe hulle die gedrag van die oortreders veroordeel het. Die oortreders het die nasionale poging om die verspreiding van die koronavirus te voorkom, ondermyn.

Hy sê: “Die munisipaliteit gaan saam met ander rolspelers strenger maatreëls toepas wat verskerpte monitering van verkeer insluit. Motoriste wat onder die invloed bestuur, gaan vervolg word. Die beslaglegging op voertuie van persone wat weens dronkbestuur gearresteer word, gaan ook deel van dié maatreëls vorm.” 

Matsie sê mense wat in groot getalle bymekaarkom, belemmer die pogings om die verspreiding van die virus, wat lewens die wêreld oor geëis het, te bekamp.

Die munisipaliteit doen ’n beroep op elkeen om die regulasies ten opsigte van byeenkomste en die verkope van drank streng na te kom.

“Die munisipaliteit gaan owerhede ondersteun om oortreders vas te vat,” sluit Matsie af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *