KBY mall staan saam teen Covid-19

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Diamond Pavilion Mall in Kimberley maak seker dat die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne vir die voorkoming van die koronavirus tot op die jota gevolg word.

Die bestuur van die mall sê in ’n persverklaring hulle kliënte se gesondheid en welstand is baie belangrik. Hulle beplan om vir so lank as wat dit toelaatbaar is, hulle deure oop te hou om die gemeenskap te help in hierdie ongewone tyd.

Volgens die persverklaring monitor die inkopiesentrum se bestuur die uitbraak van Covid-19 en het hulle die nodige voorsorgmaatreëls getref om die publiek so ver as moontlik daarteen te beskerm. Daar is glo addisionele werkers by die mall se skoonmaakspan gevoeg om seker te maak dat alle oppervlaktes waaraan daar gereeld gevat word, soos hysbakke se knoppies, roltraprelings, badkamerkrane en deurhandvatsels, gereeld met die voorgeskrewe alkoholbasis- en antibakteriese skoonmaakmiddels skoongemaak word.

Bo en behalwe die riglyne wat dié inkopiesentrum volg, word alle kopers aangeraai om die vasgestelde higiënebeheer op hulself toe te pas. “Was jou hande deeglik en gereeld, vermy fisiese kontak so ver as moontlik, moenie aan jou gesig vat nie en hou jou elmboog voor jou mond wanneer jy hoes of nies.”