Dubbele heupvervanging voor 40

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Jolandy Dimond het voor die ouderdom van 40 dubbele heupvervangings gehad. Sy vertel vir FiND iT hoe sy op drie jaar oud haar eerste operasie moes ondergaan.

Gebore met ontwrigte heupe

Jolandy is in 1977 gebore en haar ouers het op ’n jong ouderdom agtergekom sy loop nie reg nie. “Toe ek begin loop, het ek op my tone geloop en nie soos ’n gewone kind platvoete nie. As my ma my op haar heup gesit het, het ek seergekry. Ek is verwys na dr. Kopke en met die eerste ondersoek het hy niks opgelet nie.  My ouers het weer gegaan vir ’n tweede besoek en my ma het vir die dokter gesê sy gaan laat ek instap (want ek trippel as ek loop) en sy het haar hand op my kop gesit en toe ek loop, toe swaai ek my heupe. Die dokter was geskok en hy het vir my ma gesê dit is nie net een heup nie, maar albei heupe wat ontwrig is. Altwee my heupe was uit hulle potjies uit. Die potjie en die been was geheg met ’n sening.”

Eerste operasie op drie jaar oud

“Ek was vir 11 maande en ’n paar dae in die hospitaal waar hulle kort-kort moes sny en die heupe na die potjies toe terugbring.”

Moeilik by die skool

Jolandy sê dit was soms vir haar moeilik by die skool. “By die skool was dit moeilik, want ek kon nie maklik sokkies en skoene aantrek nie, ek moes my bene onder my buig om te kan gemaklik aantrek of net sukkel soos ek kon.  Ek kon aan geen sport deelneem nie, vir ingeval iets kon gebeur.”

Jolandy se regterbeen is 2 cm korter as haar linkerbeen. “Ek was baie gespot oor ek soos ’n eendjie loop omdat my een been korter is,” vertel sy.

Heupvervangings

“In 2010, net nadat ek my blindederm moes laat uitgehaal, het ek vreeslik pyn gekry en dr. Van Niekerk het ontdek my heupe is nou net been op been. Ek moet heupvervangings kry. Ek was 33.  In 2011 het ek my eerste heupvervanging gekry en in 2012 my tweede een.”

Die lewe gaan voort

Jolandy vertel sy kan ongelukkig nie meer dinge doen soos wat sy voorheen het nie. “My grootste probleem is dat ek nie meer baie dinge mag doen wat ek in die verlede gedoen het nie.  Ek mag glad nie skoene met hakke dra nie, want as ek swik en val, kan my heup uitspring.  Ek mag glad nie kruisbeen sit nie, ek mag glad nie swaar bokse ensovoorts optel nie. Ek moet versigtig staan en loop.  As ek te lank staan, swel my voete en ek kry baie pyn.  Ek kan glad nie my bene lekker buig om klein dingetjies te doen soos toonnaels knip, sokkies aantrek, skoene aantrek ensovoorts nie. Iemand moet my altyd help.  Dit is nie altyd maklik nie, maar mens help mekaar en probeer alles doen om dit gemakliker vir jouself te maak. Die oefeninge wat Martin Viljoen (my fisio) vir my gegee het, doen ek gereeld sodat ek dit gemaklik vir myself kan maak.”

“Ek moet ook jaarliks gaan vir ’n ondersoek om te sien of alles nog goed verloop. Dr. Kopke het altyd gesê ek sou op 18 en 26 jaar oud heupvervangings gekry het, maar ek het deurgegaan tot 34 vir my eerste een.”