LUISTER: SA’ner onder kwarantyn praat

Deel hierdie storie / Share this story

’n Suid-Afrikaner wat positief vir die koronavirus getoets is, het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer en is onder kwarantyn. Hy het op Heart.fm in Kaapstad gepraat oor hoe hy die kwarantyn-situasie hanteer.

Hy sê dit voel soos ’n ligte verkoue. “Jy sal vir die eerste paar dae nie eers weet jy het die virus onder lede nie. My keel was ’n bietjie seer, maar na ’n koppie koffie was ek weer gereed vir die res van die dag.”

Hy sê hy het die virus vermoedelik by die lughawe opgedoen.

“Wat ek dink ons as Suid-Afrikaners moet probeer verstaan, is dat nie almal in ons land getoets sal kan word nie.

“Almal in Suid-Afrika is nou paniekbevange oor ’n maagseer of ’n loperige neus en wil vir die virus getoets word. In dié stadium is dit besig om ’n negatiewe impak te hê op persone wat byvoorbeeld met leukemie gediagnoseer is. Die hele toetsstelsel is besig om daaronder te ly.

“Suid-Afrikaners moet in hierdie stadium verantwoordelikheid vir hulself neem. As jy ’n seer keel of ’n droë hoes het, bly by die huis. Daar is niks wat ’n toets vir jou kan doen, anders as om te bevestig of jy die virus het of nie. Daar sal in elk geval vir jou gesê word om huis toe te gaan, vitamiene C in te neem en kontak met ander persone te vermy.”

[archiveorg whatsappaudio20200318at08.41.082 width=640 height=30 frameborder=0 webkitallowfullscreen=true mozallowfullscreen=true]