Provinsiale sokkerspan ’n langtermyn projek om toerisme te bevorder

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – ’n Provinsiale sokkerspan is ’n langtermyn doel van die plaaslike regering.

Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premierskantoor, sê die verskeie opsies word nog oorweeg. Die aangeleentheid is nog op ’n konseptuele stadium en daar is dus geen toegewyde begroting vir die projek beskikbaar gestel nie, sê sy.

Thomas-Abrahams sê: “Een van die opsies is om ’n span direk van die PSL te koop. Nog ’n opsie wat oorweeg word, is om ’n provinsiale sokkerspan in die Mvela-liga te ondersteun wat ’n deurbraak tot by die PSL kan maak.”

Die provinsiale regering is hoofsaaklik besig om besighede te mobiliseer om in hierdie onderneming te belê. Produktiewe samesprekings met verskeie sakelui in die provinsie het ’n groot belangstelling in hierdie inisiatief getoon.

Die rede waarom daar in ’n PSL-span belê moet word, is om te verseker dat die provinsie die grootste voordeel uit sporttoerisme trek. 

Thomas-Abrahams sê: “Ons moet die provinsie blootstel aan die enorme getalle sokkerondersteuners wat altyd bereid is om saam met hul spanne te reis.”

Die feit dat die provinsie vir soveel jare nog nie ’n span in die PSL het nie, is ’n onreg wat gestop moet word aangesien die provinsie ’n enorme talent van jong spelers het. Sokker is die grootste sportsoort in die provinsie, sê sy.

“Die kleinste dorpe in die provinsie het sokkerspanne en ons het ’n oorvloed van talent. Dit is nou hoogtyd om geleenthede vir groei vir die sokkerspelers in die provinsie te skep,” sê Thomas-Abrahams.

Dit sal ’n gevoel van trots by die mense van die Noord-Kaap veroorsaak. Sy sê: “Ons is van mening dat ons ’n pragtige provinsie het wat ons aan die res van die land en die hele wêreld moet blootstel. Sport is een van ons fasette wat ons in staat sal stel om dit te doen.”