Covid-19: die hoofonderwerp

Deel hierdie storie / Share this story

Hoe verduidelik jy aan jou kind hoe Covid-19 die wêreld beïnvloed? Hoe kan jy jou kind gerusstel? Hoe kan jy jou kind op sy of haar vlak van die Covid-19 virus verduidelik?

Kinders hoor daagliks van die koronavirus, genaamd Covid-19. Dit kan soms ’n uitdaging wees om oor hierdie onderwerp met jou kind te praat. Dit verg baie van ’n ouer om kalm te wees en haar kind gerus te stel in paniekbevange tye. Wanneer jou kleinding vra: “Mamma, wat is Covid-19?” wees voorbereid om haar of hom deur hierdie tyd te help.

Verduidelik die term Covid-19

Neem die tyd om ernstig, maar nie sonder hoop nie, met jou kind te praat oor die pandemie wat die wêreld in die gesig staar. Begin die gesprek deur jou kind te vra wat hy of sy van die Covid-19 virus verstaan.

Verduidelik aan jou kinders hoe die virus hulle kan aantas en hoe om hulle daarteen kan beskerm. ’n Virus is baie klein en kan nie met die blote oog raakgesien word nie. Daarom is dit belangrik om jou hande gereeld en deeglik te was voordat jy aan jou gesig vat.

Stel jou kinders gerus deur vir hulle te sê die medici regoor die wêreld is besig om hard te werk om ’n teenmiddel vir die virus te ontwikkel.

Beperk sosiale media

Gedurende hierdie tyd kan vrees die dryfkrag in die media wees. Om te verseker jou kinders is gerusgestel, beperk hul tyd op sosiale media waar hulle miskien fopnuus oor die pandemie kan lees. Verduidelik aan jou kind dat daar baie botsende hulpbronne rakende die virus is. Stel jou kind ook gerus dat jy enige nuus met hom of haar sal deel indien dit nodig is.

Beoefen goeie higiëne

Verduidelik aan jou kind die belangrikheid daarvan om goeie higiëne te handhaaf. Leer hulle hoe om hul hande deeglik te was en om dit gereeld te doen.

Was jou hande saam met jou kind en sing ’n liedjie saam met hulle om te verseker dat julle die vereiste 20 sekondes neem om jul hande deeglik te was.

Wanneer byeenkomste afgestel word

Baie skool- en sportbyeenkomste is na pres. Cyril Ramaphosa se toespraak afgestel. Kinders sien gewoonlik uit na hul skool- en sportbyeenkomste en ook na familie-byeenkomste en sal vra waarom dit nie meer plaasvind nie.

Verduidelik aan jou kind hoe die afstel of uitstel van byeenkomste die onmiddellike verspreiding van die virus kan beperk.

As jou kind siek word

Stel jou kind gerus indien hy of sy siek word. Verduidelik aan hulle dat ons in die verkoueseisoen inbeweeg en dat mense wat siek raak nie noodwendig die virus het nie. As hulle siek word, sal die dokter vir hulle raad en medisyne gee om hulle te help om weer gesond te word.

Klik hier om ‘n opvoedkundige video met jou kind mee te deel.