KIMBERLEY – ’n Leser wat graag anoniem wil bly, het onlangs in die Kaap gaan vakansie hou. Weens die koronavirus wat in die Wes-Kaap uitgebreek het, wou sy haarself hier in Kimberley vir die virus laat toets. Sy is egter by MediClinic weggewys.
FiND iT het by MediClinic en Pathcare navraag gedoen oor hoe die toetsingsproses werk.
Denise Coetzee, van MediClinic, sê die hospitaal doen nié toetsing vir die koronavirus nie. Pathcare Medkim doen die amptelike toetse in Kimberley.
Coetzee sê enige pasiënt móét deur ‘n dokter na die hospitaal verwys word voordat toetsing kan plaasvind.
“Sou hier miskien ’n pasiënt by die hospitaal opdaag wat vermoed dat hy of sy die koronavirus opgedoen het, vra ons aan hom of haar die volgende twee vrae. Het jy enige respiratoriese probleme? Met ander woorde, sukkel jy om asem te haal of is jy kortasem? En was jy binne die afgelope twee weke in ’n hoërisikoland of was jy in kontak met enigiemand wat moontlik die virus het?
“Wanneer die pasiënt dan “ja” op beide van die vrae antwoord, sal die pasiënt na die ongevalle-eenheid gestuur word, waar sy of haar simptome ondersoek sal word en ’n speekselmonster geneem sal word.
“Slegs as die pasiënt simptome van die virus toon, sal ons hom of haar opneem. As die geval minder ernstig is, sal die pasiënt ’n gesigmasker kry en gevra word om by die huis in self-isolasie te bly.”
Coetzee sê die hospitaal sal genoeg plek hê as hier moontlik gevalle in Kimberley voorkom. “Ons sal vir die pasiënte plek maak. Daar is klaar een saal geïdentifiseer as die saal waarin pasiënte in isolasie geplaas sal word.”
Jawayer Damons, woordvoerder van Pathcare, sê enige persoon wat vermoedelik die koronavirus opgedoen het, moet deur ’n dokter na Pathcare verwys word. “Pasiënte wat nié simptome van die virus toon nie, sal nie gehelp word nie.”
Verder sê Damons die pasiënte wat nie ’n mediese fonds het nie, moet met NICD skakel, wat die geval sal hanteer. “Pathcare sal net as ’n middelman optree en die monsters na NICD in Johannesburg stuur vir toetsing.”




