Carla-Marie van den Heever, ’n Suid-Afrikaner wat in China woon en werk, het onlangs op haar Facebook-profiel haar ervaring oor self-isolasie gedeel.
Sy sê niemand in China het regtig waarskuwings ontvang om hulle voor te berei vir die skielike isolasie waarin almal geplaas is nie.
“Dinge hier in China sal hopelik weer binne die volgende maand of wat na normaal terugkeer. Vir die res van die wêreld, veral vir Suid-Afrika, begin die nagmerrie nou eers.”
Van den Heever vertel hoe moeilik dit oorspronklik vir haar was om die idee van self-isolasie of kwarantyn te aanvaar. “Maar wanneer dit wel gebeur, dit koud is en al die griepsimptome is rondom jou, dan tref die realiteit jou.”
Sy gee in haar plasing op haar profiel wenke vir hoe om vir isolasie voor te berei.
“Nommer een, isolasie is rof. Dit voel soos huisarres, maar dis nodig. Dis wat jou gesond gaan hou. Maak ’n lys van wat in en rondom die huis gedoen moet word. Dit sal keer dat jy nie sommer verveeld raak nie.
“Maak seker van jou aksieplan vir wanneer jy of iemand van jou gesin onder kwarantyn geplaas moet word. Weet jy waarheen die ander dan gaan?
“Staan elke oggend op, maak jou bed op en trek aan. Stel vir jouself doelwitte en bly daarby. Werk sommer ’n oefensessie ook hier en daar in!
“Dis nié die einde van die wêreld nie, so moet asseblief nie ál die toiletpapier in Spar gaan koop nie. Kwarantyn maak wel aflewerings ’n bietjie moeiliker, so wees voorbereid vir ongeveer twee maande. Hê veral genoeg higiëniese produkte en dinge soos kerse. Skaf vir jou ’n masker of twee aan vir wanneer jy die dag moet uit.
“Maak jou kos sommer vooruit. Berei nou al maaltye voor wat jy in bakkies in die vrieskas kan bêre vir wanneer jy dit nodig kry. Onthou ook om genoeg kos vir jou troeteldiere aan te skaf.
“As jy van die huis af moet werk, berei vir jouself ’n vertrek in jou huis voor met ‘n lessenaar, weg van die televisie af. Dis moeilik om produktief te wees as alles eentonig is.
“Hou in gedagte dat jy ander siektes as die koronavirus kan opdoen. Hou genoeg medisyne vir verkoue, griep, maagprobleme en pyn byderhand.
“As jy kinders het, sorg dat daar genoeg melk en doeke in die huis is. Motiveer ook jou kinders om nie net voor die televisie te lê nie, maar produktief te verkeer.
“Was jou hande, arms en gesig gereeld. Kontak terselfdertyd jou mediese fonds om uit te vind presies hoe jy te werk gaan wanneer jy vermoed jy of iemand in jou gesin het die virus onder lede.
“Lees en luister na die nuus, maar bly merendeels weg van sosiale media. Te veel van die verkeerde inligting is nie goed vir ’n mens se gedagtes nie.
“Jy en jou gesin kry skaars kans om regtig kwaliteit-tyd bymekaar deur te bring. Benut hierdie situasie om ’n bietjie nader aan mekaar te kom.”



