WARRENTON – Omstreeks 08:00 Saterdagoggend is daar by die bus van inwoners van Warrenton ingebreek. Dit blyk asof die diewe ‘n klip gebruik het om die voorste ruit van die bus, wat in die eienaars se erf gestaan het, stukkend te slaan.
“Dis die vierde keer wat hulle by ons inbreek!” Só sê die eienaar van die Mercedes Benz-bussie, wat uit vrees vir viktimisasie nie haar naam genoem wil hê nie. Sy sê die bus het reg voor haar huis gestaan.
“Ons het hoeka die muur voor ons huis afgebreek sodat mens kan sien wat in ons erf aangaan as ons nie hier is nie. Hulle het al die los goed wat voor in die bus was, gesteel.”
Die eienaar sê sy en haar man het ‘n saak by die polisie gaan open.




