KIMBERLEY – Om geboorte te skenk, is moeilik, of dit nou met ’n keisersnit of natuurlik gebeur.
Gisteraand het ’n vrou wat woon op Bobo se plaas, beter bekend as Lerato Park, in ’n straat geboorte geskenk.
Neo Marope, ’n inwoner, het die vrou se krete om hulp gehoor en probeer om ambulansdiens te kontak. “Die baba is klaar gebore en niemand weet hoe om die naelstring te knip nie,” sê Marope op Sol Plaatje Community Forum se Facebook-blad.
Die gemeenskap het nie op hulle laat wag om kommentaar te lewer om hulp aan die nuwe ma en baba te verleen nie.
Marope sê op die gemeenskapsforum die ambulansdiens is al teen 18:00 geskakel, maar het eers teen 20:00 opgedaag.
Marope is in kontak met die pasgebore baba se ma en het die gemeenskap laat weet beide die ma en die baba is goed aan die herstel.



