Die Arnold Classic Africa (ACA) sportbyeenkoms is een van die grootste sportbyeenkomste in Suid-Afrika.
Jaarliks word bykans 80 verskillende sportsoorte, van cross-fit na kragoptel en sterkman hier ten toon gestel. Dit vind jaarliks in Mei plaas.
In 2020, onkant gevang deur die Covid-19 pandemie, sal die sportbyeenkoms uitgestel word.
In die persverklaring sê Wayne en Michelle Price, hooforganiseerders van ACA, die datum waarna die byeenkoms uitgestel word, sal later in die week bekendgemaak word.
“Na uitgebreide vergaderings met die owerhede, wat verband hou met die president se toespraak en gesprekke met Arnold Schwarzenegger self en die wêreldwye vennote, is die veiligheid van deelnemers en toeskouers prioriteit. Daar is geen ander keuse as om die byeenkoms uit te stel nie,” sê Price.
Price doen ’n beroep op alle belanghebbendes om na hulself in hierdie tydperk om te sien. “In sport staan ons saam,” sê Price.



