KIMBERLEY – “Dit hou letterlik soms dwarsdeur die nag aan. Ek kan snags nie slaap nie!”
’n Inwoner van Diamantpark, wat uit vrees vir viktimisasie nie haar naam genoem wil hê nie, is baie omgekrap oor die geraas wat stééds in haar woonbuurt aanhou.
Volgens die inwoner bly sy al vir 39 jaar in Diamantpark.
“Ek het oorspronklik gedink die rede vir die harde musiek is ’n geleentheid wat in die buurt gehou word, omdat my huis omring is deur kuierplekke. Ek het eers na ’n ruk besef die musiek kom van ’n nuwe kuierplek af.”
Sy sê die geraas is vanaf Oktober 2019 ’n probleem in die buurt.
“Ek sukkel om saans te slaap. Die trilling van daardie musiek in my ore raak bykans te veel om te hanteer.”
Volgens die inwoner het sy ’n interdik teen die kuierplek gekry om saans om 22:00 tot die volgende oggend om 08:00 die musiek sagter te sit, maar het dié plek nie daarby gehou nie.
Die inwoner het in Desember 2019 ’n petisielys opgestel om uit te vind of daar nog mense in haar woonbuurt is wat ’n probleem met die musiek het.
“Ek het nou genoeg gehad. Ek dink mense is bang hulle word slagoffers en hulle huise word afgebrand, sou hulle die petisielys teken. Ek sal net graag wil weet of daar nog mense in Diamantpark is wat deur hierdie musiek gepla word.”



