Spiesgooi-atleet se reis na sukses

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Gerlèa Smit is ’n leerling aan die Laerskool Eureka wat gedurende die naweek nie net haar skool nie, maar ook Kimberley by die Noord-Kaap-sportbyeenkoms in Upington gaan verteenwoordig het. Sy was die enigste o/13 spiesgooi-atleet van Kimberley wat vir die toernooi gekies is.

René van Rooyen, Gerlèa se ma, sê sy en Gerlèa se stiefpa het al haar sportbyeenkomste bygewoon. “Daar was altyd iemand van ons familie wat haar gaan ondersteun het. Haar ouma en haar tannie, Leandra, het haar ook gaan ondersteun.”

Ondersteun jou kind

Gerlèa se fiksheidsroetine en eetgewoontes moes aangepas word vir die nuwe sportsoort wat sy beoefen. “Ons het by almal raad gevra en advies gekry. Jy moet jou kind ook net soveel in die voorbereiding as tydens die kompetisie ondersteun,” sê Van Rooyen.

Liefde vir sport

“Sy het ’n groot liefde vir sport. Sy neem elke jaar aan al die items tydens die skool se kleure-atletiek deel. Ek kon hierdie keer na elke oefening die opgewondenheid in haar stem hoor. Sy het elke dag vertel hoe lekker dit vir haar is,” sê Van Rooyen.

Toewyding, deursettingsvermoë en volharding

Gerlèa se familie, vriende en afrigter is ongelooflik trots op haar prestasie. “Sy het soveel toewyding en deursettingsvermoë gewys. Sy het daagliks twee uur lank geoefen en sy het haar skoolwerk ook met volharding aangepak. Ek is regtig so trots op haar. Sy het derde geëindig  in die Noord-Kaap in haar eerste jaar van spiesgooi. Dit is ’n merkwaardige prestasie,” sê Van Rooyen.

Van Rooyen sê dit verg baie toewyding van ’n ouer om by alles uit te kom. “Al wat jy kan doen, is bid. Bid, jou kind ondersteun en seker maak alles verloop volgens plan. Daar is ’n gesegde wat sê: It takes a village to raise a child. Ons is met ’n sterk village van vriende geseën.”

Van Rooyen se raad aan ouers is om seker te maak jou kind kry ’n afrigter wat saam met hom of haar en ook saam met jou as ouer ’n pad kan stap. “Die afrigter moet saam met jou en jou kind glo in jou kind se droom en bereid wees om daardie ekstra myl vir jou kind te loop.”

Trotse afrigter

Marius Kapp, haar afrigter, sê aan FiND iT dit was nie ’n maklike pad om te stap nie. “Gerlèa moes baie uitdagings oorkom. Dit was ’n groot leerskool vir beide van ons. Vir haar was dit ook ’n fisiese uitdaging.”

Kapp sê Gerlèa  het met net twee maande se afrigting dit reggekry om derde plek by die Noord-Kaap-sportbyeenkoms te verower. “Ek is baie trots op haar prestasie.”

Gerlèa is in haar element op die sportveld.