LONDON – Adam Castillejo, die tweede persoon wat van MIV genees is, is twee en ’n half jaar later steeds van die siekte vry.
Volgens CNN het die mediese tydskrif The Lancet HIV Dinsdag ’n studie gepubliseer wat Castillejo se genesing dokumenteer.
Castillejo, wat voorheen as die “London Patient” geïdentifiseer was, het twee en ’n half jaar gelede sy MIV-antiretrovirale terapie voltooi.
Hy het destyds ’n stamseloorplanting ondergaan om limfoomkanker te behandel. Volgens CNN het sy skenker ’n mutasie, wat as CCR5-delta 32 bekend is, gehad. Dit het Castillejo weerstandig teen MIV gemaak.
Navorsers meen dat Castillejo, nou 40, tydens die behandeling van sy limfoom genees is van MIV.



