KIMBERLEY – Die Carters Glen-woonbuurt was in die vroeë oggendure die teiken vir diefstal. Is jou hekmotor teen diefstal bestand?
Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security, sê ongeveer ’n maand gelede het die Scorp Security-wagte saam met die Carters Glen-buurtwag diewe gevang wat hekmotors gesteel het. “Die raaisel oor waarom huiseienaars in die oggende hul hekke en motorhuisdeure oop gekry het is opgelos. Met beurtkrag lyk dit asof die diewe weer toeslaan. Scorp Security se kliënte kan gerus wees, want die wagte is altyd op hul pos. Indien enigiets gebeur, is die wag dadelik daar en maak ook met die huiseienaar kontak. Scorp Security saam met die buurtwag help om misdaad in die buurt te voorkom.”
Twee huise in Carters Glen is hierdie keer geteiken. By beide huise is hekmotors gesteel.
Dawie Griesel, hoof van veiligheid vir AfriForum in Kimberley, sê dit is skokkend hoe die misdaadsyfer in Kimberley toegeneem het. “Ek raai slagoffers van misdaad aan om enige geval by die polisie aan te meld. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein die misdrywe is nie.”



