Ongevalle-eenheid glo ontruim na siek man instap

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Die minister van gesondheid moet met ons eerlik wees. Suid-Afrika, veral Kimberley, is nie gereed vir hierdie virus nie. Dit is so duidelik soos daglig,” praat Christopher Jordaan, inwoner van Kimberley, ontsteld met FiND iT.

Jordaan was gisteraand by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal toe die siek Chinese burger ongeveer 21:45 opgeneem is. Die pasiënt is glo in isolasie geplaas tot sy toetsuitslae terugkom.

Jordaan se seuntjie, Sachin (8), se blindederm was vreeslik seer en daarom het sy pa hom na die hospitaal geneem. Volgens Jordaan het hulle baie lank by die hospitaal gesit en wag om gehelp te word. Die pasiënte is skielik toe gevra om te ontruim.

“Ek het net skielik gesien hoe almal hulle hemde en hulle hande oor hulle monde hou. Toe ek en my seuntjie buite wou gaan kyk wat aangaan, het ek groot geskrik.”

Daar was blou ligte, paniekerige gesigte en ‘n Chinees wat senuagtig op en af loop. Jordaan sê hy het dadelik iets vermoed en probeer om met een van die susters te praat.

‘”Een van die dokters het toe uitgekom en vir ons gesê niemand het rede om paniekerig te raak nie. Hy het gesê die pasient word tans onder isolasie gehou totdat hy vir die virus getoets is.”

Wat Jordaan egter pla, is die feit dat die pasiënte wat in die kliniek gesit het, eers ná die man by die hospitaal ingeneem is, maskers gekry het.

Foto: Sommige van die pasiënte sit buite die ongevalle-eenheid met maskers.

“As daai man die virus onder lede het, is almal van ons nou siek! Die hospitaal moet elke liewe een van ons vir die virus toets. Ons almal gaan nou terug na ons huise en ons families en môre na ons werke. Wie steek ons nie nou almal aan nie?”

Lulu Mxexo, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, kon teen 07:18 vanoggend nog nie vir FiND iT terugvoer gee nie. Sy het gesê sy kan nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie.