Tydens ‘n mediakonferensie wat Maandagmiddag by die departement van gesondheid se hoofkantoor in Pretoria gehou is, het dr. Zweli Mkhize bevestig dat daar in totaal sewe bevestigde gevalle van die gevreesde koronavirus in Suid-Afrika is.
Vyf van die sewe mense was op dieselfde vlug van Italië wat op 1 Maart in Suid-Afrika geland het. Dis ‘n groep van 10 mense. Die ander se uitslae word binne die volgende paar dae verwag, sê dr. Mkhize.
Die minister het gesê dié groep bly die rede vir die gevalle tot dusver in Suid-Afrika.
‘n Groot hoeveelheid mense wat met die sewe korona-pasiënte in aanraking was voor die diagnose, is ook getoets.
Mkhize het ook gesê die regering weet die virus-kwessie is ‘n ernstige saak. Daar word volgens dr. Mkhize 84 plekke regoor die land voorberei waar persone met die virus onder kwarantyn geplaas sal word.
Die simptome van die virus is nie altyd sigbaar nie, sê dr. Mkhize. ‘n Pasiënt kan positief toets vir die virus, maar nie enige simptome toon nie. Dokters behandel volgens dr. Mkhize net die simptome van die virus. Hy sê jou liggaam behoort self die virus te beveg. “As die virus jou beetkry, kan dit meer as ses weke vat voordat jy daarvan genees is.”
As ‘n dokter jou onder selfkwarantyn plaas, moet jy sorg dat jy daarby hou.



