Greenpoint-man steeds in Kimberley-hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Daar is geen rede om paniekerig te wees nie. Hier is sover geen korona-gevalle in die Noord-Kaap bevestig nie,” sê Mase Manopole, LUR van gesondheid in die Noord-Kaap.

Manopole het ‘n verklaring uitgereik oor die toestand van die Chinese man van Greenpoint in Kimberley. Die man wat gisteraand na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal gehaas is, toon volgens haar geen simptome van die koronavirus nie.

Die man is met sy aankoms in Suid-Afrika getoets en is aangeraai om in self-isolasie te bly om met die moontlike ontwikkeling van die virus nie die viruskieme te versprei nie.

Volgens Manopole het die man streng by die reëls van self-isolasie gebly en ‘n masker gedra om die mense rondom hom teen die moontlike virus te beskerm.

Die man word tans by die hospitaal gehou en sal vir 14 dae gemonitor word voordat hy weer getoets word. Die groot rede waarom hy in die hospitaal gehou word, is om hom teen kwaaddoeners te beskerm.