EKSKLUSIEF: Sterkman se vrou praat

Deel hierdie storie / Share this story

CHRISTIANA – Yolandie Els (38), vrou van Johan Els, die wêreld se sesde sterkste man, het met FiND iT gesels oor haar skielike verdwyning in Januarie vanjaar.

Yolandie het op 7 Januarie 2020 sonder ‘n woord haar tasse gepak en gery. Johan was in Kimberley vir die dag en het eers toe hy by die huis gekom het, besef sy vrou is nie daar nie.

“Ek het gedink dit was die perfekte geleentheid om ‘n bietjie my kop te gaan skoon kry,” sê Yolandi.

Johan het, soos wat meeste mense weet, onlangs sy lewe aan die Here gegee en homself laat grootdoop. Hy het ‘n ommekeer in sy lewe gemaak.

“Hy het van allerhande dinge in ons huis ontslae geraak. Dinge wat vir my sentimentele waarde gehad het. Dinge wat hy gevoel het nie in die oë van die Here goed is nie. Dit het net vir my ‘n bietjie te veel geraak. Ek wou net ‘n bietjie wegkom.”

Johan, wat op sy Facebook-profiel ‘n foto van Yolandie geplaas het en al sy Facebook-vriende gevra het om hom te help om na haar te soek, sê dit was alles dalk net te vinnig en te veel vir haar om te hanteer.

Yolandie sê sy het nie ‘n plan gehad toe sy by die huis weg is nie. “Dit was vir my duidelik gemaak dat ek nie in my ouerhuis welkom is nie, so ek is maar na vriende in Welkom toe. Hulle het vir my blyplek en kos gegee vir die tyd wat ek daar was.”

Johan sê die 37 dae wat sy vrou weg was, was loshande die slegste tyd in sy lewe. “Ek het maar daagliks hier teen my kamermuur dinge geskryf wat my hoop gegee het.”

Foto: Hier is Johan se boodskappies en woorde van bemoediging aan homself. Een lui: “Sy sê dis verby en ek sê Mattheus 19:26.”

Yolandie het op 9 Februarie besluit om weer huis toe terug te keer. Sy sê dit was ‘n baie moeilike besluit en sy was vol van vrees en twyfel oor of sy die regte ding doen, maar is tot vandag toe nog nie spyt oor haar besluit nie. “Ons is nou gelukkiger as ooit. Ons is só lief vir mekaar.”

Die paartjie se planne vorentoe is om die wêreld vol te reis en hulle getuienisse te gaan lewer oor hoe hulle meen die Here hulle lewens verander het. Hulle probeer ook tans om ‘n kind van hul eie te kry.

Johan is op sosiale media en deur sommige koerante as ‘n vroueslaner bestempel. Yolandie se skielike verdwyning het baie mense laat wonder of sy dalk haar eie redes gehad het om so dringend van Johan af weg te kom.

“Hy het nooit sy hande vir my gelig nie. Ek het net nie meer geweet watter kant toe nie. Alles in Johan se lewe het net te vinnig verander.”

Johan sê dis vir hom jammer dat sy titel as die wêreld se sesde sterkste man van hom af weggeneem is net oor skinderstories. “Yolandie was my eerste liefde, nog vandat ek kan onthou. Ek is vreeslik lief vir haar en ek sal haar beslis nooit seermaak nie.”