KIMBERLEY – Daar was teen vanmiddag 16:00 nog geen nuus oor die toetsing van die Chinese burger wat gisteraand inderhaas na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (KH) geneem is, aan die media deurgestuur nie.
Die man was glo by sy winkel in Greenpoint toe die gemeenskap hom daarbinne toegesluit het. Lede van die gemeenskap reken hy het die koronavirus onder lede. As gevolg van sy klaarblyklike griepsimptome en die feit dat hy ’n maand terug van China af Suid-Afrika toe gevlieg het, het daar chaos geheers onder die mense in Greenpoint. Die polisie het saam met die ambulans gery wat hom toe na die Kimberley-hospitaal geneem het.
Die pasiënte wat in die ongevalle-afdeling gewag het vir behandeling, is glo ontruim om die mediese personeel ’n kans te gee om die man by die hospitaal in te neem.
Na vele navrae oor die man se toestand, waar hy behandel word en of hy al getoets is, het Lulu Mxexo, woordvoerder van die departement van gesondheid, steeds geen inligting aan FiND iT deurgegee nie.
FiND iT hou jou op hoogte.




