Styg bo jou omstandighede uit

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Is jou omstandighede ook besig om jou terneer te druk? Weet jy ook nie meer herwaarts of derwaarts nie? Hou moed. Daar is iemand wat in dieselfde bootjie as jy roei.

Tania Saul (31) is ’n Kimberliet in murg en been. Sy is hier gebore en het ook hier grootgeword. Dit is ook in die Diamantstad waar sy haar ruggraat ontdek het en bo haar omstandighede uitgestyg het.  Sy kan sewe tale met die gepaste aksente praat.  

“Ek het na skool geen benul gehad van wat ek wil gaan studeer nie. Ek het matriekvrystelling gekry en by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Ek het egter in my eerstejaar opgeskop, want ek moes begin werk. Daar was nie genoeg geld om my studies te kon betaal nie,” vertel Saul.

Saul het by ’n inbelsentrum begin werk en so die broodwinner in die huis geword. Na sy vir ’n paar jaar gewerk het, het sy weer haar studies hervat.

“Ek het by Unisa studeer en terselfdertyd gewerk. Ek het my BA-graad voltooi.”

Saul sê sy is na haar studies genooi vir ’n onderhoud waar sy moontlik oorweeg sou word om in China te gaan onderwys gee. “Ek was verbaas die onderhoud het so goed gegaan. Na vyf de het hulle my laat weet ek het die onderhoud geslaag en die werk gekry. Daarna was dit die mediese ondersoeke en die aansoek om oorsee te gaan wat op my gewag het. Die grootste rede waarom ek so gretig was om die aanbod te aanvaar, is omdat ek baie lief is daarvoor om te reis.”

Saul gee steeds onderrig in China, maar is tans terug in Suid-Afrika. “Ek is al sedert Januarie met verlof. Ek het in Singapore, toe ek van vlugte verander het, uitgevind van die Covid-19 virus wat uitgebreek het in China. Ek het dit net-net vrygespring.”

Saul se verloftyd is verleng weens die koronavirus-uitbraak. Sy is onseker oor wanneer sy na China sal terugkeer.

“Ek het bo my omstandighede uitgestyg. Ek het iets van myself gemaak. As jy terneergedruk voel of jy voel asof niemand jou ondersteun nie, wees net sterk. Staan vir jouself op. Werk hard vir dit wat jy wil hê. Niks sal ooit net in jou skoot val nie,” sê Saul.