KIMBERLEY – “Ek het een aand in die winter met ’n glas wyn voor my televisie opgekrul gelê en skielik het dit my getref. Ek het net daar en dan besluit ek wil begin events reël!”
Andrea De Nobrega (39), ma van ’n driejarige dogtertjie, het in Februarie 2019 begin om kunstenaars na Kimberley te nooi en die Kimberliete ’n geleentheid te gee om optredes van welbekende kunstenaars by te woon.
De Nobrega is in die week van 08:00 tot 17:00 by haar voltydse werk en kry eers saans na 10 kans om by haar event planning uit te kom. “Tussen 17:00 en 22:00 het ek ’n driejarige ‘manager’ by die huis wat mý ‘manage’.”
Die naweek hou De Nobrega ook bekend as Kimberley Events by Bella Cardi Wedding Venue die Bikibos Musiekfees. Bella Cardi is 8 km buite die dorp geleë, afdraai na plaas op die regterkant. “Die fees is vir oud en jonk. As jy wil dans, dans jy. Plakkies, tekkies, vellies of net die veters as jy wil.” Daar gaan ses gaskunstenaars optree. Die gaskunstenaars is Heidi, Kerry Lee, Arno Jordaan, Juan Boucher, Jan Rhaap en Dirk van der Westhuizen, asook Diana Fouche, as MC en voorskou.
Die hekke open om 14:00 en die verrigtinge word van 15:00 tot laat gehou. Daar gaan ’n verskeidenheid kosstalletjies, ’n kontantkroeg en ’n area vir die kinders om te speel.
Kaartjies is beskikbaar by @Celines by Rhodesdene Pick ’n Pay, by The Room by die Hadison Park-sentrum, by Salon Beyounique Hair & Beauty in die Northern Cape mall, by Go Zone Water in Longstraat, asook aanlyn by www.kimberleyevents.co.za of bel Andrea by 083 350 3504.
De Nobrega het al groot name in die musiekbedryf soos Elandré, Dirk van der Westhuizen, Appel, Brendan Peyper, Pieter Koen, Demi Lee Moore, Nicholas Louw, Snotkop, Elizma Theron en Monique Steyn genooi om hier op te tree.
De Nobrega vertel van die grootste flater wat sy al begaan het by een van haar funksies. “Toe Snotkop in Kimberley kom optree het, was ek ’n senuweewrak. Die weervoorspellings het op reën gedui die naweek wat hy sou kom optree. Ek het toe ’n borg gekry vir ’n tent vir as dit sou reën. Met die dat ek toe vooraf by die venue vir kunstenaars staan en wag, het daar ’n skielike en vreeslike wind opgekom. Ek het verbete aan die tent gehang om te probeer keer dat die tent wegwaai. Iemand vra toe vir my hoekom ek aan die tent hang as die tentpenne twee meter onder die grond geanker is! Ek het so simpel gevoel.”
De Nobrega sê dis ’n fees om al die kunstenaars te ontmoet. “Een van die kunstenaars het een keer sonder skoene by die show opgedaag. Hy moes sy klankman se skoene leen vir sy optrede.”



