August 4, 2021

DBV lê klag teen Bloemfontein-dieretuin

Daar is al vir jare ’n debat aan die gang oor die Bloemfontein-dieretuin se verdere bestaan en of sy deure gesluit gaan word. Die dieretuin was in die paar jaar gereeld in die nuus oor klagtes oor die toestande waaronder die diere aangehou word.

Die DBV het inligting ontvang wat handel oor diere wat van honger besig is om te vrek en het dadelik besluit om die dieretuin te besoek.

Tebogo Maswanganye, inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, sê hulle het met die aankoms by die dieretuin nie een van die bokke sien eet nie. “Ons het rondgekyk en gesoek vir kos, maar kon niks sien nie.”

Toe hulle volgens Maswanganye nader aan die heining staan, het al die diere uitgeput en sonder energie voorgekom. Sommige van die diere was glo baie maer en swak.

Die donkies en die impalas by die dieretuin het glo na hulle aangehardloop gekom. “Dit was duidelik oor hulle honger was en gehoop het ons bring vir hulle kos.”

Die renosters, buffels en skape is die groep diere wat meer as al die ander van die honger gely het. Hulle kon volgens Maswanganye skaars loop.

Die reptielpark was ook glo in ’n verskriklike toestand. “Daar was ‘n vreemde reuk en dit was walglik vuil.”

Om hierdie diere se pyn en lyding te verlig, het die DBV besluit om kos vir die diere en sade vir die voëls te gaan koop. Volgens Maswanganye het al die DBV-werknemers kom help om die dieretuin se diere te voer.

Maswanganye sê daar is al vyf diere in dié dieretuin as gevolg van honger dood.

Maswanganye sê hy kan nie glo dat nie een van die dieretuin se werknemers raakgesien het hoe swaar die diere kry nie. Hy sê hy sou eerder wou hê die dieretuin moet sy deure sluit.

Die dierebeskermingsvereniging het ’n klag van dieremishandeling teen alle persone en departemente wat by die dieretuin betrokke is, gelê.

Die DBV besoek steeds gereeld die dieretuin om die situasie te monitor.

FOTO’S NIE VIR SENSITIEWE LESERS

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *